10 September 2018 | Rubrieke

Invalshoek - Gebreekte vensters

Rudi Koekemoer - Ons het na ‘n agtien ure vlug vanaf Johannesburg, via Dakar, in Washington DC geland. Glo my, dit voel of mens ‘n buiteliggaamlike ondervinding het nadat jy oor ses tydsones gereis het, byna geen slaap ingekry het nie en dan weer in ‘n vreemde land voete op vaste grond plaas.

Die goed georganiseerde polisieteenwoordigheid in elke openbare plek het my opgeval. Dit was eintlik baie intimiderend, veral vir iemand wat nie gewoond daaraan is nie.

Die ongeskrewe boodskap is dat mense te alle tye wetsgehoorsaam moet wees.

Hierdie boodskap het fisieke afmetings aangeneem toe ons op Central Station sien hoe twee polisie-offisiere ‘n ou dame hardhandig op die grond neergooi en haar hande agter haar rug boei. Dit was byna asof ons besig was om ‘n fliek te aanskou.

Ons het na die tyd besef dit was omdat sy nie bereid was om gehoor te gee aan die polisie se versoek om haar tas oop te maak sodat hulle kon kyk wat daarin was nie. Een van die polisiehonde het glo snuf in die neus gekry.

Daarna het ons nog twee insidente gesien waar die polisie mense sterk aangespreek of selfs in hegtenis geneem het.

Ek het een aand tydens aandete die opmerking gemaak dat ek wonder of dit die norm was en of ons maar net “ongelukkig” was om soveel insidente te sien. In die dae wat gevolg het, was ek baie meer bewus van wet en orde en het gou agtergekom dat almal pligsgetrou elke reël nakom.

Ons het twee weke in die VSA spandeer vanwaar ons deur familielede in Spokane met ‘n motor kom haal is om by hulle op hul plaas in Creston, Kanada te gaan kuier. Dit was ‘n drie ure rit, hoewel die afstand net 220 kilometer was.

Ons het weereens opgelet dat niemand die spoedgrens van 100 km per uur oorskry het nie, want die VSA het geen verdraagsaamheid vir iemand wat padreëls verontagsaam nie; om nie eens te praat van iemand wat onder die invloed van drank bestuur nie. Jou bestuurslisensie kan onmiddellik opgeskort word en selfs permanent afgeneem word indien jy ‘n gereelde oortreder is. In Kanada aangekom, het ons dieselfde wetsgehoorsaamheid opgelet.

Ek stel belang in onderwysmodelle en het ‘n afspraak met die skoolhoof van die Prince Charles Secondary School gemaak om oor verskeie aspekte van die Kanadese kurrikulum te gesels. Ons het oor allerlei interessanthede gesels, waaroor ek in die volgende rubriek sal vertel, maar hy het genoem dat hulle leerders die beginsel van die “Broken Window” tydens alle fasette van die lewe leer.

Ek wou natuurlik weet wat hierdie konsep behels. Hy het my gevra of ek al opgelet het dat wanneer ‘n gebou vir lank leeg staan (daai spookhuis op die bult) die vensters of almal stukkend gegooi is of almal heel is. Volgens die skoolhoof sal al die vensters mettertyd gebreek word sodra een stukkend gegooi is. Dit is menslike gedrag.

Ek het gaan oplees oor die “The Broken Window Theory” wat die sosioloë George Kelling en James Wilson in 1982 in New York geformuleer het. Die polisie het dit as deel van hulle opleiding aanvaar en in die gemeenskap toegepas.

New York, soos talle ander stede in die VSA, het gebuk gegaan onder georganiseerde misdaad en gevolglik het die polisie hul aandag gevestig op ernstige misdaad en gewoonlik kleiner oortredings oorgesien. Die navorsing het egter bevind dat kleiner oortredings altyd groter misdaad voorafgaan en dat die polisie se fokus verkeerd was. Hulle moes juis onverdraagsaam wees teenoor kleiner oortredings, want dit sal groter misdaad laat afneem.

Die polisie het die teorie begin toepas en misdaad het noemenswaardig afgeneem. Die algemene morele en etiese beginsels van die VSA het mettertyd herstel en vandag kom die meerderheid mense alle reëls en wette na, juis omdat daar geweldige gevolge is vir kleiner oortredings van die wet. Skole leer kinders dat jy die kleinste reël of wet moet nakom, want anders kan dit lei tot morele en etiese verval van die samelewing.

Hoe weeg ons samelewing teen die teorie op?