10 August 2018 | Arbeid

Husab-werkers kla oor behandeling

‘Multikulturele omgewing’

Catherine Sasman - Swakop Uranium (SU), die Namibies-geregistreerde maatskappy wat die Husab-myn in die Erongostreek besit, het beweringe deur sy Namibiese arbeidsmag ontken dat hulle anders as hul Chinese kollegas behandel word.

Van die Namibiese werkers beweer onder meer die maatskappy se beleid en prosedures is nie op alle werknemers van toepassing nie en daar is baie “onregverdigheid en teenstrydighede".

Die ontevrede werkers, wat verkies om anoniem te bly, beweer voorts daar is geen deursigtigheid in die maatskappy nie en dat Chinese burgers hul eie vergaderings oor die maatskappy se vordering hou, terwyl Namibiërs in die duister gelaat word.

“Dubbele standaarde bestaan vir Chinese en Namibiese werknemers. Chinese werknemers word toegelaat om aan diens te slaap, terwyl dit ’n ernstige oortreding vir ons is om dieselfde te doen,” beweer bronne.

Die werkers beweer ook Namibiërs word nie deur Chinese werkers gementor of opgelei nie.

“Dit is andersom – Namibiërs lei die Chinese werkers op,” beweer een van die bronne, en voeg by die Chinese werkers se kwalifikasies is dikwels twyfelagtig.

Volgens die beswaardes is hul salarisse ook nie altyd gelyk nie en hou behuisingtoelae nie kers vas by ander mynmaatskappye nie.

Plaaslike werkers by Husab het in November verlede jaar ’n klagskrif in dié verband aan die myn se bestuur oorhandig.

Dit is egter deur mnr. Percy McCullum, SU se visepresident van menslike hulpbronne, as bog afgemaak.

Volgens McCullum verwelkom die maatskappy ’n multikulturele omgewing as een van sy kernwaardes.

“Die suksesvolle interaksie tussen en integrasie van die verskeie kulture het ’n unieke kultuur gekweek waarin werknemers van beide lande van mekaar in werks- én sosiale verband kan leer,” het McCullum gesê.

SU word deur die meerderheid-aandeelhouer China General Nuclear (CGN), die China-Africa Development Fund (CAD Fund) en Epangelo Mining besit.

Die myn is in 2012 gebou, en werksaamhede het in 2014 met 30 permanente werkers begin.

Oor ’n tydperk van vier jaar het die personeelkorps tot 1 619 gegroei, met 500 kontrakwerkers wat op die perseel werk.

McCullum sê die maatskappy is die enkele grootste werkgewer in Namibië se mynbedryf en dra by tot die regering se doelwit om armoede en werkloosheid te verlig.

Volgens hom was sowat die helfte van die werknemers jeugdig en werkloos met hul aanstelling.

Baie is volgens McCullum ook van ander myne en nywerhede gewerf.

Hy sê die maatskappy ontvang gewoonlik honderde aansoeke wanneer vakante poste geadverteer word.

Hy het voorts gesê die maatskappy het ’n mededingende salarisstruktuur en ’n amptelike graderingstelsel.

“Salarisse word jaarliks met groot maatskappye binne die verskeie nywerhede vergelyk. SU vergoed werknemers volgens hul ondervindingsvlakke. Posbeskrywings bestaan vir elke rol en beskryf werknemers se pligte en verantwoordelikhede,” het hy beklemtoon.

Volgens McCullum het CGN as die meerderheid aandeelhouer “redelike beheermaatreëls” om die veiligheid van die werksaamhede van die myn en rente op sy belegging te verseker.

CGN het 35 Chinese werknemers aan SU afgestaan.

Dit is sowat 1,8% van alle SU-werknemers.

McCullum sê dié werkers is volgens hom ten volle in die maatskappy se werksaamhede geïntegreer, is hoogs opgelei in bestuur- en bedryfstelsels, en verskaf saam met die plaaslike bestuur strategiese, finansiële en tegniese leiding.

McCullum sê voorts die maatskappy het ’n omvattende opleidings- en ontwikkelingstruktuur daargestel om opleiding aan Namibiërs en veral voorheen benadeelde inwoners op tegniese en nietegniese gebiede te verskaf.

Die maatskappy het ook meer as N$231 miljoen oor ’n tydperk van drie jaar bestee om onder meer operateurs en vakmanne op te lei.

Vanjaar is 17 gegradueerdes wat hul opleiding van drie jaar voltooi het in sleutelrolle aangestel om ’n “leierskap-pyplyn” te bou, sê McCullum.

Vroue verteenwoordig 35% van gegradueerde aanstellings.

Aanstaande jaar sal 16 voorheen benadeelde gegradueerde Namibiërs by die opleidingsprogramme betrek word.

Husab het ’n geraamde leeftyd van 20 jaar, wat volgens McCullum werksekerheid en voortgesette ekonomiese en maatskaplike bydraes bied.