12 September 2018 | Menings

Hulde aan wyle Anton Lubowski

JOHN FREDERICKS SKRYF:

Op die 12de September 1989 lê Anton Lubowski dood op die koue sementpaadjie voor sy huis.

Elf koue “high velocity” patrone het sy liggaam deurboor. Hy was dood voordat hy die koue van die sementpaadjie kon voel.

Anton se dood was ontydig, onnodig en onmenslik.

Sy gewetenlose moordenaars het die donker aand ingevlug, net soos dit lafaards betaam. Hulle het sy liggaam aan flarde geskiet, maar sy droom het verwesenlik.

Anton het die hoogste prys betaal vir beginsels, vir 'n droom en vir geregtigheid. Hy was onverskrokke, en soos die Afrikaner-Duits Namibiese bloed deur sy are gepomp het, het hy vreesloos gestrewe na 'n ideal waarvoor en waaroor baie nie wou gedink of gedroom het nie.

Na talle doodsdreigemente, haatbriewe en beswaddering, het hierdie intellektuelle reus en bekwame sportman hom beywer vir die gelyke behandeling van sy mede-susters en -broers, ongeag van velkleur en herkoms. Hy het uitgetroon soos 'n ware “Spartaan”, en geveg soos een, met woorde en aksie wat die vyand laat ontaard het in gesiglose sluipmoordenaars.

Die Suid-Afrikaanse regering het hom gevrees, die verkramptes het hom gevrees, die konserwatiewes het hom gehaat, maar die mense van die land was lief vir hul broer en mede-vryheidsvegter.

Anton was lewenslustig. Hy was soos almal van ons lief vir die lewe, vir die land en sy mense. Hy was lief vir sy ouers, sy kinders (dogters) en die ander vrouens in sy lewe.

Hy was 'n persoon van integriteit, beginsels en standvastigheid, met 'n onwrikbare geloof in die edelheid van die mens.

Die kil, gesiglose moordenaars wat ons beroof het van een van die edelgesteentes van ons land se geskiedenis en leiers het nooit die prys betaal vir hul euweldaad nie. Ek kan my indink hoe die ma van Anton oor die sinlose moord op haar seun moet voel.

“My kind is dood, en die mense dink daar niks nie van!”

Aan die familie, kamerade en vriende van Anton, wees gerus en vind vrede in die wete dat Anton se opofferings stabiliteit, vrede, samehorigheid en vryheid teweeg gebring het in 'n land waarvoor hy lief was en voor geleef het, maar waarvoor hy ook bereid was om te sterf.

Op my politieke kalender is 12 September Anton Lubowski-dag.

Volgens hofverslae is die onbekende, bekende moordenaars van Anton, Donald Acheson, Staal Burger en Chappie Marais.