08 November 2018 | Omgewing

Honderde buffels versuip in Chobe

Francoise Steynberg - Tussen 400 en 500 Kaapse buffels het Dinsdagnag in die Choberivier naby Serondela Lodge in die Zambezistreek versuip.

Volgens die bestuurder van die lodge, me. Laura Erculei, is dié skokontdekking van die honderde buffelkarkasse aan die Namibiese kant van die Choberivier gisteroggend gemaak.

"Ons vermoed die buffels is deur 'n trop leeus van Botswana af in die Choberivier ingejaag wat 'n stormloop veroorsaak het. Toe die buffels deur die rivier swem, kon hulle nie die rivier aan die Namibiese kant oorsteek nie, want die rivieroewer is te hoog om uit te klim" het Erculei gister aan Republikein verduidelik.

Erculei sê die ministerie van die omgewing en toerisme is van die voorval ingelig en die vleis van die buffels sal na die gemeenskappe van Kabulabula gaan.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het bevestig beamptes het gister ondersoek ingestel en bevind die buffels het wel versuip. Natuurbewaarders van Botswana was ook op die toneel.

Hy het ook bevestig dat dit nie 'n geval van miltsiekte is soos verlede jaar in die Kavango-Oosstreek wat die lewe van honderde seekoeie, tientalle buffels en ander wild geëis het nie.

"As dit miltsiekte was, sou daar ook karkasse op land gewees het, maar die karkasse is net in die water," het Muyunda gesê.