07 September 2018 | Kuns en vermaak

Hier word geboer met verbeelding

Eensaamheid kan jou vreemde dinge wysmaak. Jy kan tred verloor met die werklikheid, hoog raak op die dampe van verlore drome.

Die sentrale figuur in Jean-Pierre de Kock se hipnotiese debuutroman, Die daggaboer, het hom onttrek aan die samelewing. Lennet Loots probeer op 'n lappie grond buite Baardskeerdersbos in stilte en eenvoud 'n afgesonderde bestaan voer. Hier plant hy groente, kap hout, dra kaftans en luister sy geliefde klassieke musiek. Hy verdien iets ekstra uit sy dagga­plantjies wat hy soos kinders vertroetel. Sporadies ontvang hy besoekers: morsige vakansiegangers, sy veroordelende broer Konrad, die verhuurder Oom Loeser en Everest, 'n bekkige dwelmhandelaar.

Dié verbete alleenloper, wat sy saai loopbaan as boekhouer prysgegee het, wil nie as hippie getipeer word nie. Isolasie beteken vir hom 'n terugkeer na onopgesmuktheid, om eerlik en na aan die aarde te lewe. 'n Weldoener wat die gemeenskap dien, wil hy ook nie wees nie. Dus draai hy sy rug op die mensdom se waardes en stelsels, sy meisie, en sy pa wat hom nie meer herken nie. Hy verpes die teerpad wat mense bring.

Groen tematiek deurweef die verhaalgegewe; dit groei welig in Lennet se boerdery en belewenisse. Hy ervaar die nabyheid van die natuurlike omgewing aanvanklik as koesterend en paradyslik, mettertyd vind hy dit ál dreigender en onherbergsamer: “Die nag en sy geluide is gelaai met wantroue.” Die natuur transformeer van bondgenoot tot iets onheilspellends. Lennet beland in 'n benarde situasie en moet 'n koue nag buite deurbring. Die veranderlikheid van die elemente weerspieël sy wispelturige gemoed, die ongereptheid sy eie onpeilbare ruigtes. Hy verdwaal in 'n uiterlike én innerlike wildernis waar geheime vermolm. Die daggaboer verken die dilemma van die eietydse Suid-Afrikaner wat 'n diepgewortelde versugting na 'n eie plekkie in die son met vrese oor plaasmoorde probeer versoen. Elemente van die sielkundige riller laat die leser soms wonder op watter stasie Lennet verkeer, of hy sy eie produkte misbruik. In die trant van 'n man alleen teen die natuur, 'n Crusoe op sy eiland, Henry David Thoreau se ode aan Walden, Hemingway se ou man en die see, kies Lennet obsessief die donkergroen paadjies van alleenwees, wegkruip en oorleef. Daar wag 'n paar kinkels voordat hy homself kan konfronteer . . .

Die verhaal rank vol ragfyn, sintuiglike beskrywings van die natuur, eksistensie en klassieke musiek. Die skrywer toon 'n besondere aanleg om karakters in humoristiese dialoog te laat lééf.

Hier word groot geboer met verbeelding. - Netwerk24