01 February 2018 | Visserye

Harderloos word herderloos op Walvisbaai

Regte verval

Des Erasmus - Brood- en vislose maande kan vir tot 500 mense op Walvisbaai wag nadat die harderbedryf summier tot stilstand gedwing is. Dit is droewige dae wat op 31 Desember vir die treknetvissers ingetree het en onbepaald kan voortduur.

Alle vangregte vir harders het sedert 1 Januarie verval in ‘n bedryf wat normaalweg in die eerste vier maande van die jaar goed op dreef is. Van Mei tot Augustus laat koue toestande die harders na vlakker water uitwyk soos in die Walvisbaaise strandmeer en die omgewing van Sandvishawe.

Hardervangste is nie aan kwotas onderhewig nie, maar word wel net in sekere afgebakende gebiede tussen die Voëleiland net noord van Walvisbaai tot in die nabyheid van Pelikaanpunt toegelaat. Vangregte is tot 31 Desember verlede jaar aan ‘n beweerde sewe operateurs toegeken, maar in die bedryf word toegegee dat nie almal operasioneel was nie.

Ná 31 Desember moet eers in die Staatskoerant aangekondig word dat aansoek weer om vangregte vir harders gedoen moet word. Op so ‘n aankondiging word nog gewag. Daarna word die aansoeke oorweeg en toekennings gemaak. Dit is prosesse wat tot maande kan duur, selfs tot wanneer die spitsseisoen teen die einde van April verstryk het.

Op Walvisbaai word gereken dat tot 100 treknetvissers by die bedryf betrokke is. Uit die geledere van tradisionele vissers wat geen ander nering ken nie, het ‘n woordvoerder gesê vir dié mense gaan dit om den brode. As elkeen van die vissers die enigste broodwinners van gesinne van net vyf mense sou wees, skep dit 500 afhanklikes van die harderbedryf. Benewens hul lone vorm ‘n daaglikse gasie harders deel van die vissers se pakket. Die byvoordeel van harders vir huishoudelike gebruik staan bekend as fry, herlei van die Engelse woord vir bak of braai.

In Januarie het die bedryf nog mank aangesukkel met voorrade wat opgebou was toe die vangregte nog bestaan het. “Maar nou het ons niks,” het een van die vissers gesê.

Die vangste word basies van die land behaal. Dinghies, klein roeibootjies, word gebruik om die nette in die see te span en die vangs word dan na die strand ingetrek.

Die harders dien nie net as ‘n voedsel- en inkomstebron vir die vissers nie, maar lewer ook ‘n belangrike bydrae tot toerisme. Operateurs van die sogenaamde dolfyntoere op die baai is harderkopers. Op see dien dit as voer vir pelikane, meeue en robbe en bring dit die seelewe tot teenaan en selfs op die plesierbote met die toeriste. Ook dolfyne swem nader wanneer die harders gevoer word.

Hengel is nog ‘n staatmaker van toerisme wat op die harderbedryf reken. Trofeehengelaars wat uit verre lande hier kom ingooi op soek na Namibië se groot bronshaaie, ‘n sesde toevoeging tot jagters se Groot Vyf, gebruik harders vir aas. Groot hengelkompetisies skep ook ’n afsetgebied vir harders. Met die verbod van drie jaar op pelsersvangste, die gewildste aas vir kabeljouvangste, word eksperimente nou ook met harders vir aas gedoen. Een van die grootste kabeljoue van die afgelope weke is met ‘n mengsel van harder- en makrielaas ingebring.

In huishoudings is daar verskeie gebruike vir harders in die pan of op die vuur. ‘n Uitsonderlike groot harder in ‘n treknet kan die skaal op tot een kilogram trek. Talle kleiner versendings van harders word van Walvisbaai na Owambo uitgevoer. In die noordelike gebiede word harders ook in sout gedroog en dan in die vorm van visbiltong, die meer bekende Wes-Kaapse bokkem of bokkom, gebruik.