13 September 2018 | Menings

Hand in tradisie se boesem

Hierdie week is tradisionele leiers in Windhoek oor verskeie kwessies streng deur pres. Hage Geingob en ander leiers aangespreek.

Dit is gerade vir die leiers om elkeen die hand in eie boesem te steek. Dit geld ook amptelik “nie-erkende” tradisionele leiers.

Die staatshoof wou in breë van tradisionele leiers weet of hulle hul take eerbaar uitvoer.

Sommige beskou die rol van politieke lojaliteit en getuigskrifte, asook stamhoofde se staatsvoordele as faktore met negatiewe uitwerkings. Dit mag nie hierdie gesagte, wat in hul gemeenskappe 'n belangrike doel dien, ondermyn nie.

Stamreg en tradisionele howe moet volgens Geingob, minister Peya Mushelenga en hoofman Immanuel /Gaseb interne geskille besleg.

Geingob en andere het die verdeeldheid en leierskapstwiste in talle tradisionele owerhede veroordeel as 'n onnodige las op staatsbronne wat die owerhede se ontwikkelingsrol in die wiele ry. As Geingob vrede onder die Ondonga moet help bewaar, kos dit die land tyd, energie en geld.

Mushelenga het die teer kwessie aangeroer van trustfondse wat nie ten bate van tradisionele gemeenskappe aangewend word nie. Dit geld alle ander bates, gemeenskapbronne en werktuie vir bemagtiging.

Ons stem saam, maar nie net tradisionele leiers moet hulself afvra of hulle as hekwagters vir wysheid, integriteit, waardes en verantwoording 'n beter lewe vir almal najaag nie. Alle leiers, en alle Namibiërs moet daagliks dieselfde doen.



So sê ander

12 September 2018



Beeld, Die Burger en Volksblad sê



Die jongste berigte oor Jacob Zuma se beweerde gekonkel is nog 'n inskrywing op die groeiende lys faktore wat bydra tot onsekerheid oor politieke stabiliteit in die ANC-regering.

Sy voortdurende teenwoordigheid is ongetwyfeld 'n poging om sy aanhangers te sterk in hul pogings om politieke beheer oor die organisasie terug te wen.

In die meeste politieke partye wêreldwyd is daar gewoonlik verskillende faksies wat verskillende beleidsaksente bevorder, of dit bloot as 'n dekmantel gebruik om mee te ding om die leierskap en beheer.

Wat in hierdie geval anders is, is dat Zuma en sy volgelinge staatskapers is wat die land se skaars bronne vir selfverryking gestroop het. En nou ontsteld is omdat ondersoeke daarna momentum kry.

Hou gouer die ANC-regering en die land finaal ontslae is van hul invloed, hoe beter.

• NETWERK24