11 September 2018 | Regering

Hage: Namibië nie te koop

N$10 miljard nie vir bedryfsuitgawes

“Dit is vir ons om seker te maak as die Chinese hiernatoe kom, hulle op óns voorwaardes kom.” Pres. Hage Geingob Staatshoof

Ronelle Rademeyer



Die staatshoof, pres. Hage Geingob, het gister bewe­ringe weerlê dat Afrika aan die Chinese uitverkoop word en dat dié land besig is om die vasteland opnuut te koloniseer.

Hy het die versekering gegee dat as China met Namibië wil besigheid doen, dit op “óns voorwaardes” moet gebeur.

Daarom sal die N$10 miljard wat Namibië beoog om as deel van China se N$900 miljard-finansieringsaanbod aan Afrika by dié land te leen, só onderhandel word dat Chinese maatskappye plaaslike arbeid gebruik en hul materiaal hier aankoop.

Hy het gister aan joernaliste by Staatshuis gesê Namibië moet sy voorwaardes vir hierdie kontrakte neerlê. “Dit is vir ons om seker te maak as die Chinese hiernatoe kom, hulle op óns voorwaardes kom.”

Mnr. Calle Schlettwein, minister van finansies, het dit beaam en gesê Chinese maatskappye moet aan Namibiese verkrygingsprosesse voldoen sodat die plaaslike ekonomie by hierdie kontakte vir kapitaalprojekte kan baat. “Ons moet uit die staanspoor ons voorwaardes stel.”

Die staatshoof en verskeie ministers het by dié nuuskonferensie terug­voering gegee oor die pas afgelope besoek aan Indonesië, gevolg deur die besoek aan Beijing vir die beraad van die Forum op China-Afrika-­samewerking (Focac). Die eenvormige bood­skap was dat die beoogde nouer samewerking met hierdie Asia­tiese lande tot Namibiërs se voordeel is.

Beide die staatshoof en die minister van finansies het vrese besweer dat die ekstra N$10 miljard-skuldlas dit vir Namibië nóg moeiliker gaan maak om sy skuldverpligtinge teenoor buite­landse leners na te kom.

Die N$10 miljoen sal grootliks in die vorm van konsessionele lenings wees waarvan die rentekoers 2% beloop, met die eerste terugbetaling wat eers ná vyf jaar geskied.

Volgens Schlettwein is Namibië se Chinese skuld sy goedkoopste skuld. Die rentekoers vir plaaslike lenings is 7,7%, vir skuldbriewe dok die regering 9% op en die Eurobond kos hom 7%.

Verder, sê hy, is Namibië se blootstelling in terme van Chinese lenings baie klein. Dit beloop tans sowat N$2 miljard, wat 2,6% van die land se totale skuldlas en 7,9% van sy buitelandse skuldlas uitmaak.

Geingob het die versekering gegee dat die land se totale skuldlas van 43% van die bruto binnelandse produk (BBP) binne perke is. “Ons het nog altyd ons skuld beheer. Ons leen nie hierdie geld om salarisse en bedryfsuitgawes te betaal nie; dan is jy in die moeilikheid. Ons leen geld om werk te skep en die ekonomie te laat groei.”

Net so het Schlettwein die versekering gegee dat die land se skuld “binne volhoubare perke is”.

Hoewel geen kontrakte nog gesluit is nie, is die uitbreidings en opgraderings aan die Internasionale Lughawe Hosea Kutako die groot prioriteit. “Oor die omvang en grootte van die projek moet nog besluit het,” het hy gesê.

Ander voorkeurprojekte wat deur die lenings gefinansier sal word, is die opgradering van sekere roetes na snelweë, spoorlyne, watervoorsiening aan die sentrale gebied en kragvoorsiening. Schlettwein het nie oor die aard en omvang daarvan uitgewei nie.