12 July 2018 | Sport

Groter, beter Desert Rumble III by The Dome

The Dome in Swakopmund sal op 3 Augustus opnuut Namibiese boks in die kollig plaas wanneer die derde Desert Rumble-bokstoernooi by dié prima venue aangebied word.

Die aand word moontlik gemaak danksy The Dome se uitnemende verhouding met Kalakoda-promosies van Suid-Afrika en Kwesé Sports wat die gevegte aanlyn sal beeldsend.

In die voorafgaande week sal ver­skeie geleenthede aangebied word met die hoogtepunt die Vrydagaand waar boksers van die MTC Nestor Sunshine-boksakademie by die res van die vegters aansluit.

Jeremy Bean, bemarkingsbestuurder van Kalakoda, meen The Dome is op pad om Afrika se mees gesogte venue vir boksgevegte te word.

“Dit is 'n voorreg en eer om in samewerking met The Dome hierdie massiewe geleentheid aan te bied. Ons het 'n goeie verhouding met hulle opgebou sedert ons verlede jaar twee byeenkomste by hierdie wêreldklas venue aangebied het. Dit het die basis vir Swakopmund en The Dome gevorm om die nuwe boksmekka van die land asook Afrika te word,” het Bean gesê.

Dié boksfees is bestem om drie titelgevegte aan te bied.

In die hoofgeveg sal Jeremiah Nakathila (Low Key) van die MTC Nestor Sunshine-akademie om die vakante Afrika-superveergewigtitel van die Wêreldboksfederasie (WBF) vir Crispin Moliati van Malawi oor 12 rondes die stryd aansê.

Moliati het 22 oorwinnings (10 uitklophoue), agt nederlae (twee uitklophoue) en vier gelykopgevegte agter sy naam.

Nakathila is met 16 gevegte (elf uitklophoue) 'n opwindende vegter met net een klad op sy getuigskrif toe hy op 18 November 2016 in Ekatarinburg, Rusland, teen Evgeny Chuprakov met punte verloor het toe die twee vir die vakante WBO interkontinentale superveergewigtitel geboks het.

In die hoofvoorgeveg sal Swakopmund se eie Abraham Ndaendapo (Energy) die handskoene teen Bilindo Eseko (10 gevegte, 2 verloor) van die Demokratiese Republiek van Kongo vasknoop om te bepaal wie nou eintlik die WBF Afrika-superveergewigkampioen is.

Vir die 34-jarige Ndaendapo met 16 oorwinnings (5 uitklophoue) en ses verloorslae is dié geveg van uiterste belang om sy loopbaan voor sy plaaslike bewonderaars te bevorder. Indien Energy suksesvol is, wil hy teen die elite van die wêreld se veergewigte skouers skuur.

“Om voor my tuisskare in Swakopmund te baklei, gaan die beste uit my haal. Ek is gemotiveerd en reg, want die regte tyd het vir my aangebreek om na vore te tree,” het Ndaendapo gesê.

In die derde titelgeveg oor tien rondes sal Lukas Ndafoluma (The Demolisher) vir Jimmy Mabundji (The Beast) van die Demokratiese Republiek van Kongo om sy WBF Afrika-supermiddelgewigtitel uitdaag.

Mabunji lyk na 'n moeilike kalant. Hy het 12 gevegte op sy rekord waarvan hy nege gewen (sewe met uitklophoue) en drie verloor het.

Ndafoluma (11-1, drie uitklophoue) is tans die Internasionale Boksfederasie se Afrika-kampioen.

Vooraf sal Namibiërs twee vroue in die beroepsarena sien boks wanneer Martina Tjauha van Namibië en Revai Madondo (Zimbabwe) mekaar oor ses rondes pak.

Kaartjies is by The Dome beskikbaar en kan ook aanlyn by www.swakopindoorsport.com gekoop word.