12 September 2018 | Omgewing

Grootfontein maak 'n plan met vullis

Nuwe stortingsterrein vir beter gesondheid

Luke Salomo, woordvoerder, Grootfontein-munisipaliteit: “Die ou stortingsterrein was ook te naby aan informele nedersettings, en om gesondheidsredes het die dorpsraad besluit om dit te sluit en 'n nuwe een buite die dorp op te rig.”

Elvira Hattingh - Grootfontein sal voor die einde van vanjaar 'n nuwe vullis­stortingsterrein hê, waarná die gebruik van die tydelike stortings­terrein agter die militêre basis gestaak sal word.

Só sê mnr. Luke Salomo, Grootfontein-munisipaliteit se woordvoerder, in antwoord op inwoners se klagtes oor plastieksakke by die tydelike ­stortingsterrein wat die wêreld vol waai en 'n swak eerste indruk van die dorp skep.

Foto's van die tydelike stortings­terrein is op Facebook versprei.

Die munisipaliteit sê die ou stortingsterrein is vol en derhalwe gesluit.

“Dit kan nie langer gebruik word nie. Daarom het die dorpsraad besluit om van hierdie tydelike stortingsterrein gebruik te maak. Dit is egter net totdat die nuwe stortingsterrein in gebruik geneem kan word,” het Salomo gesê.

BEHEERMAATREËLS

Oor die kommer dat die ­vullisterrein soos 'n seer oog uitstaan en swak beheer word, het Salomo gesê die dorpsraad is van die omstandig­hede bewus en het gevolglik sekere beheermaatreëls ingestel.

“Die eerste is om die terrein gelyk te maak om te keer dat plastiek rondwaai of dat mense op die terrein loop en aas.

“Verder sal die verskuiwing van die stortingsterrein sou gou moontlik afgehandel word – die doel is om dit voor die einde van die jaar te doen. Die nuwe stortingsterrein sal toegespan word om die beweging van mense daardeur te beperk.

“Die ou stortingsterrein was ook te naby aan informele nedersettings, en om gesondheidsredes het die dorpsraad besluit om dit te sluit en 'n nuwe een buite die dorp op te rig,” het Salomo gesê.

Hy het bygevoeg vullis word daagliks in die onderskeie woongebiede, asook in die sentrale besigheidsgebied op die dorp versamel - van Maandae tot Vrydae, asook op naweke.

“Alle vullis op die dorp word deur die departement vir omgewing en gesondheid bestuur. Sodra dit opgelaai is, word dit na die stortingsterrein vervoer, wat langs die pad na ­Otjinene geleë is, so 7 km buite die sentrale dele van die dorp.”

Salomo het beweringe ontken dat inwoners van die informele nedersetting, Blikkiesdorp, “tussen” die vullis woon.

“Blikkiesdorp is 'n informele nedersetting wat behoorlik met toegang tot elektrisiteit en skoon, lopende water toegerus is. Weens finansiële ­beperkinge kon die dorpsraad egter nog nie die woonbuurt van behoorlike toiletgeriewe voorsien nie.

“Die munisipaliteit het kontrakteurs gekry wat die vullis daagliks in ­Blikkiesdorp sal oplaai. Boonop het die munisipaliteit dié deel van die dorp van houers verskaf waarin hul vullis gegooi kan word.”

ALMAL SE TAAK

Salomo het gesê 'n skoon omgewing vorm 'n belangrike deel van mense se gesondheid en welstand.

“Die voordele van 'n skoon dorp sluit in gesonde mense, 'n produktiewe ekonomie en florerende besighede, asook 'n dorp wat aantreklik vir beleggers en toeriste is. Die verantwoordelikheid lê dus by almal van ons.”

Hy het gevra Grootfontein-inwoners moet mense aanmeld wat vullis op onwettige plekke stort.