17 November 2017 | Ministeries

Grond ’n oplossing vir verstedeliking

‘Tergende uitdaging’

Mnr. Philip Tjerije, spesiale adviseur vir die minister van stedelike en landelike ontwikkeling: “In baie opsigte is hierdie boek 'n wekroep wat wys ons tyd loop uit.”

Augetto Graig - Sowat die helfte van Namibiërs bly tans in stede en op dorpe.

Al meer landsbewoners verruil egter die platteland vir die stad, wat daartoe kan lei dat meer as 70% van die bevolking teen 2030 in stede en op dorpe kan bly.

Boonop groei informele nedersettings in Namibië se stedelike gebiede met rasse skrede omdat die land nie genoeg formele behuising kan bied aan die massas wat die platteland verlaat nie.

Daar is reeds meer as 140 000 informele blyplekke dwarsoor die land, en dié getal groei jaarliks met 10 000.

Teen 2030 sal die helfte van alle Namibiese huisgesinne in krotte bly.

Dié ontnugterende moontlikheid het Woensdag by die bekendstelling van ’n nuwe navorsingsboek aan die lig gekom.

Informal settlements in Namibia: Their nature and growth is deur mnre. John Mendelsohn en Beat Weber saamgestel met die ondersteuning van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) en die pasgeregistreerde nieregeringsorganisasie, die Ontwikkelingswerkwinkel van Namibië (DWN), met finansiering van die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ).

Mnr. Philip Tjerije, spesiale adviseur vir die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, het by die geleentheid namens die minister ’n toespraak gelewer.

Hy sê die boek is op die regte tyd gepubliseer en toon aan hoe dié uitdaging effektief en volhoubaar aangespreek kan word.

Tjerije sê die vinnige groei van informele nedersettings is een van die tergendste ontwikkelingsuitdagings vir die land.

“In baie opsigte is hierdie boek 'n wekroep wat wys ons tyd loop uit,” sê hy.

“Ons stede is ons gemeenskaplike toekoms. Volgehoue armoede raak grootliks die plaaslike én nasionale ekonomie. As Namibië as 'n middelinkomsteland wil groei, moet dieselfde geleenthede vir almal beskikbaar wees - ongeag ekonomiese en sosiale klas.

“Solank die meeste Namibiërs van die voordele van 'n groeiende ekonomie uitgesluit word, is daar ’n groot risiko dat hierdie groei nie volhoubaar sal wees nie.

“Tans is hierdie uitsluiting nêrens meer sigbaar as in ons informele nedersettings nie,” het Tjerije namens die minister gesê.

Volgens hom dui navorsing daarop dat daar ’n dringende behoefte aan bekostigbare grond is waar lae-inkomste Namibiërs huise kan bou en in eiendom kan belê.

Toegang tot grond is ’n fundamentele stap in toegang tot behuising, sê hy. Hy voeg by dat plaaslike owerhede die belangrikste rolspeler in dié opsig is.

Die wetsontwerp op stedelike en landelike beplanning sal as raamwerk dien om die verskaffing van grond te bespoedig en intussen neem die ministerie kennis van die huidige begrotingsbeperkings. Tog is die opmeting en beplanning van erwe volgens die boek nie duur nie.

“Binne bestaande begrotings kan baie gedoen word,” sê Tjerije.

Die navorsing ondersoek die groei van nedersettings by veral Gobabis, Outapi, Oshakati, Windhoek en Otjiwarongo.

Afgesien van Windhoek het die dorpe gedurende die afgelope paar jaar opmeting en beplanning vir ’n groot getal erwe gedoen wat aan lae-inkomste inwoners beskikbaar gestel is.

Minimale dienste is verskaf om koste laag te hou en die woonbuurte is in die algemeen nog nie geproklameer nie. Dié benadering dra by om wanordelike groei en digte, swak georganiseerde informele nedersettings te voorkom.

“Hierdie benadering kan verder op 'n kosteverhalingsbasis geïmplementeer word, aangesien laekoste-erwe in behoorlik beplande en opgemete nedersettings voorsien kan word met minimale dienste teen ongeveer N$10 000 per erf,” stel die navorsers.

Spesifieke aanbevelings wat uit die navorsing na vore kom, is dat plaaslike owerhede eerder op die verskaffing van grond moet fokus as op behuising. Ook moet die groei van informele nedersettings beheer word en grondverskaffing moet innoverend, pragmaties en proaktief benader word.

Die toekenning van verblyfreg moet ook bespoedig word, die privaat sektor moet beleggings lok, korporatiewe sosiale verantwoordelikheid en internasionale skenkers moet by die opgradering van nedersettings betrek word, en laastens moet verstedeliking in ekonomiese geleenthede omskep word. Dít volgens die navorsing.

“Ek moedig plaaslike owerhede en belanghebbendes in die behuisingsektor aan om hierdie insiggewende boek oor informele nedersettings aan te skaf en te lees ten einde hulself te vergewis van die moontlikheid om informele nedersettings te beheer en te omskep in geleenthede vir plaaslike en nasionale ekonomiese groei en ontwikkeling,” het Tjerije namens die minister gesê.