11 October 2018 | Regering

Grond: Geen verskonings meer

Hage vra ondersoek na hervestigingsplase

Pres. Hage Geingob: “Tydens my afsluiting het ek dit duidelik gestel ek wil nie enige verduidelikings hoor oor waarom iets nie gedoen kan word nie. Ek wil nie hoor oor geld of burokratiese vertragings nie.”

Verdana" >

Elvira Hattingh - President Hage Geingob het Dinsdag tydens ‘n kabinetsvergadering opdrag gegee vir ‘n dringende ondersoek na die status van hervestigingsplase, terwyl hy ministers uitgedaag het om die plaas Omgombo-Wes se produktiwiteit só te herstel dat dit weer blomme na Europa kan uitvoer.

Hy glo dié hervestigingsplaas se status kan deur ‘n vennootskap met vaardige kommersiële boere en die vorming van koöperatiewe in ere herstel word.

Die president het die versoek gerig terwyl hy Dinsdag tydens ‘n kabinetsvergadering drie ure daaraan afgestaan het om terugvoering te kry en om opdragte oor die pasafgelope grondberaad te gee.

Terselfdertyd het hy ook opdrag gegee dat ‘n volledige hervestigingslys voltooi moet word en met die publiek gedeel moet word.

“Die ministerie van grondhervorming moet saam met die ministerie van landbou, water en bosbou hervestigingsplase se status dringend bepaal, asook wat benodig word om hul produktiwiteit te verhoog,” het Geingob gesê.

“As daar nie genoeg water is nie, moet ons water verskaf. As daar nie genoeg landbougereedskap of sade is nie, laat ons kyk wat ons kan doen.”

KOMMISSIE VIR VOORVADERLIKE GROND

Die president het ook dr. Albert Kawana, die prokureur-generaal, en mnr. Martin Andjaba, minister van presidensiële aangeleenthede, opdrag gegee om teen 16 Oktober met ‘n konsep-opdrag, asook voorgestelde kandidate na vore te kom vir ‘n kommissie wat op voorvaderlike grondeise sal fokus.

Die president het gesê wat grondhervorming, kommunale grond asook voorvaderlike grondeise en herinstelling betref, kan enkele kwessies gepak word en vinnig vrugte afwerp.

Dit sluit in dat die plek by Aminius, waar kapt. Hosea Kutako ter ruste gelê is, tot ‘n nasionale erfenisgebied verklaar word en ‘n monument vir hom opgerig word, terwyl een of twee plase wat aan Aminius grens, geïdentifiseer moet word om die druk vir grond in die Aminius- kommunale gebied te verminder.

“As dit by dorpsgrond kom, herhaal ek die omstandighede in informele nedersettings is ‘n humanitêre krisis. . . wat die menswaardigheid van ons medelandsburgers ondermyn. . . en moet as ‘n noodgeval beskou word.”

Hy het gesê die kabinet en toepaslike ministers moet aan ‘n verstedelikings– en ruimtelike ontwikkelingsbeleid begin werk, terwyl vier kwessies intussen aandag moet geniet.

Dít sluit in dat dorpe se armstes onseker oor hul verblyfreg is, die beskikbaarstelling van erwe deur plaaslike owerhede – veral vir die bou van ultralaekoste-behuising, die daarstelling van huurbeheer, asook dat vordering met die bou van ‘n studentedorp voorkeur moet geniet.

HELP KOMMUNALE BOERE

Geingob het gesê die ministerie van landbou, water en bosbou moet die voltooiing van abattoirs in kommunale gebiede bespoedig, terwyl nóg abattoirs by Eenhana, Rundu en Katima Mulilo gebou moet word.

Hy het bygevoeg teen die einde van die jaar moet vleis en gewasse van kommunale boere in regeringsinstansies noord van die veterinêre kordonheining (Rooilyn) gebruik word, terwyl die ministerie van veiligheid en sekuriteit teen die einde van Oktober alle onwettige heinings in kommunale gebiede moet identifiseer sodat oortreders in kennis gestel kan word hulle moet die drade verwyder.

VERANTWOORDBAAR

Hy het verder gesê die ministeries moet gereeld met die media in gesprek tree oor hul vordering en wat hulle in verband met die grondkwessie doen, sodat gemeenskappe terugvoering kan kry.

Volgens Geingob het die kabinet se “regte werk” reeds met die afsluiting van die konferensie begin en behoort lede daarvan teen dié tyd reeds met voorbereiding van hul planne en reaksies op resolusies begin het.

“Tydens my afsluiting het ek duidelik gestel ek wil nie enige verduidelikings hoor oor hoekom iets nie gedoen kan word nie. Ek wil nie hoor oor geld of burokratiese vertragings nie.

“Die konferensie het dié uitdagings ontbloot, asook ‘n gebrek aan aanspreeklikheid, wat tot hoë vlakke van wantroue gelei het in wat ons as ‘n regering oor die grondkwessie doen,” het hy gesê.

Die president het gesê nie alle oplossings is afhanklik van geld nie en leiers moet begin om probleme skeppend aan te pak met wat hulle tot hul beskikking het – hulle moet leer om méér met minder te doen.

“Jy kan nie probleme oplos deur dit met geld toe te gooi nie. Die kernprobleem is die afwesigheid van beleide en swak implementering,” het Geingob gesê.