04 September 2018 | Landbou

Groei in landbou bespreek

Die Landbou-vooruitskouingskonferensie wat sedert 2012 al om die tweede jaar deur die Namibië Landbou-unie (NLU) aangebied word, vind vanjaar op 10 Oktober in Windhoek plaas.

Die hoofdoel van die konferensie is om 'n geleentheid te skep vir die landbousektor in die land om gesamentlike kwessies te bespreek. Verder skep dit 'n platform waar inligting oor ekonomiese sake, pryse en die markte van die toekoms gekommunikeer kan word.

Die tema vanjaar handel oor idees om groei in die landbousektor aan te vuur, sê die NLU in sy nuusbrief aan produsente.

“As die primêre sektor nie groei nie, kan geen ­bykomende werksgeleenthede geskep word om die landelike ekonomie te bevoordeel nie.

Die klem sal dus wees om die lae hangende vrugte in die vee, akkerbou, wild- en ander sektore te identifiseer wat toekomstige groei sal aanspoor.”

Die konferensie sal deur mnr. Alpheus !Naruseb, minister van landbou, water en bosbou, geopen word.

Verder op die program is mnr. Junius Mungunda wat 'n beleidsperspektief sal gee van sake wat die landbousektor raak.

'n Sessie vind plaas vir ­kommoditeite soos grootvee, kleinvee, akkerbou, wild en toerisme, met sprekers wat kortliks sal verduidelik wat die sleutelprobleme is en uitwys wat nodig is om groei in hierdie onderskeie ­kommoditeite aan te vuur.

Hierdie sessie word ­­­gelei deur verskeie plaaslike produsente en kundiges soos dr. Joggie Briedenhann, mnr. Pieter van Schalkwyk, mnr. Michael Iyambo en dr. Chris Brown.


'N BLIK IN DIE TOEKOMS

Dr. Helmke von Bach sal ook praat oor die verskillende drywers agter winsgewendheid en mnr. Arnold Klein sal afsluit met 'n blik in die toekoms van hoe boerdery oor 15 tot 20 jaar van nou af sal lyk.

Dit kos N$650 om die konferensie by te woon en dit sluit 'n volle dag se verversings en middagete in.

Vir enige navrae of om te bespreek, kontak Rina Hough by die NLU-kantoor by 061 237838 of [email protected]