04 September 2018 | Landbou

Graanmandjie skep rede vir trots

Dr. Kobus Laubscher - Die Suid-Afrikaanse Oesskattingskomitee se besluit om te hou by die voorspelling van ’n mielieoes van meer as 12 miljoen ton, het belangrike, strategiese waarde.

Dit hou ten minste die wolf van die deur af weg terwyl daar onderhandel word oor volhoubare beleid ten opsigte van grondhervorming.

Sommige ontleders sou wou betoog die feit dat daar ’n oorskot graan in die land is, maak sekere politici onverskillig.

Dit kan egter nooit in enige betoog ten gunste van regstellende aksie gebruik word nie. Die feit is daar moenie gekla word met ’n mond vol kos nie.

Die bemarkingseisoen ten opsigte van graan in Suid-Afrika strek van 1 Mei jaarliks tot die einde van April van die daaropvolgende jaar. Gegewe die goeie oes van die vorige jaar en ruim oordrag van voorrade, kan Suid-Afrika aan die einde van die 2018-2019-bemarkingseisoen tot 124 dae se mielies op hande hê teen ’n geskatte verbruik van bykans 880 000 ton per maand. Dit laat ’n geskatte uitvoerbare surplus van meer as 4,3 miljoen ton. As sodanig is dit ’n uitstekende bewys van die bydrae tot voedselsekuriteit in die streek aangesien bykans 1,5 miljoen ton van dié surplus witmielies is.

Die jongste prysskattings dui op aanvaarbare mededingendheid internasionaal omdat pryse na verwagting op uitvoerpariteitsvlakke sal bly. Die negatiewe verloop van die wisselkoers beteken goeie nuus vir uitvoerbare surplusse; net jammer die oorgrote meerderheid van die verwagte mielie-uitvoere is in onverwerkte formaat.

Sodoende verloor die land omdat verwerkte produkte weer ingevoer moet word.

ANDER GEWASSE

Uitvoerbare surplusse word ook verwag vir sonneblomsaad en soja.

Die goeie nuus is dat Suid-Afrika se koringoes na verwagting tot 18% beter kan wees as die vorige seisoen – hoofsaaklik as gevolg van verbeterde produksie-omstandighede in die Wes-Kaap.

Indien dié verwagting materialiseer, kan dit invoere beperk tot 1,4 miljoen ton, of sowat 33% minder as die vorige jaar. Met die huidige swak wisselskoers, sal verminderde invoerafhanklikheid broodpryse in bedwang hou.

Hierdie toedrag van sake ten opsigte van graan is gerusstellend en gee die ruimte wat nou nodig is om te beding ten opsigte van beleidsekerheid.

Daar is kommer oor ’n moontlike El Niño-somer wat ’n impak kan hê op produksie-omstandighede in die middel van die seisoen in die somersaaigebiede. Dit is egter normale risikofaktore wat verreken moet word.

Geen regering of beleidonstuimigheid kan daarvoor voorsiening maak nie. Beter begrip by regerings oor die impak sou El Niño realiseer, sal wel help .

Graanboere is reeds besig met voorbereiding vir die nuwe seisoen en daar is kommer oor die kredietwaardigheid van baie.

Gewoonlik is solvensie nie ’n probleem nie, behalwe dat banke en ander finansiële instellings katvoet is oor die waarde wat hulle kan plaas op grond as sekuriteit, en dit word direk toegeskryf aan die regering se onbeholpe hantering van die grondhervormingskwessie.

Daar is bewyse van ’n ineenstorting van die plaasmark, te oordeel aan onlangse, gedwonge veilings. Daar is gewoon nie kopers van grond nie, veral as sulke aankope afhanklik is van eksterne finansiering.

Die betaalbaarheid van gewasse is dus bepalend en in hierdie opsig speel oorlaatskuld en die prysverwagtinge ’n groot rol.

Baie boere sukkel met die diens van oorlaatskuld (skuld wat nie deur die inkomste gedelg kon word nie) en marges wat die komende seisoen onder druk gaan bly, bied min ruimte.

Plaasvlakinflasie, soos die styging in die prys van diesel die afgelope tyd, sal denkskuiwe vra.

Die oorwoë mening van ekonome is dat Suid-Afrika en die substreek egter kan uitsien na nog ’n jaar van voedselsekuriteit wat grane betref.