12 October 2017 | Sakenuus

Goue munte: Weet wat jy koop

Krugerrand enigste om as wettige tender erken te word

Vir baie mense lyk een goue munt soos ’n ander.

Daar is egter ’n groot verskil tussen munte wat vir beleggings gekoop word, teenoor dié wat weer die oog van versamelaars tref.

Arno Egen, waardasiespesialis by Mr Kruger, wat goue munte verkoop, verduidelik munte wat as belegging gekoop word, word as muntmetaal of “bullion” in Engels beskryf.

Die waarde van dié munte hou regstreeks verband met die inhoud van die edelmetaal waarvan hulle gemaak is.

Die daaglikse goudprys word gebruik om die waarde van die munt te bepaal.

“Die bekendste munt in dié groep is waarskynlik Suid-Afrika se Krugerrand,” sê Egen. Die Krugerrand is uniek deurdat dit die enigste goue munt is wat as wettige tender erken word en ’n transaksiewaarde het.

Munte, en nie net goue munte nie, word egter dikwels ook versamelstukke omdat hulle uniek is.

Bewysmunte is munte met spesiale eienskappe wat aan hulle ’n hoër waarde gee as bloot die metaalinhoud.

Die Krugerrand het sowel muntwaarde-munte as bewysmunte.

Rand Refinery vervaardig muntwaarde-munte terwyl die SA Munt bewysmunte vervaardig.

’n Voorbeeld van ’n bewysmunt is die massiewe 50 fynons-Krugerrand wat die SA Munt vanjaar ter viering van die 50ste herdenking van die Krugerrand vervaardig het.

Hoewel die munt se goudwaarde ongeveer R880 000 is teen die huidige goudprys van US$1 290 per fynons en ’n wisselkoers van R13,67 teenoor die dollar, gaan dit ’n versamelaar sowat R2,2 miljoen uit die sak jaag om dié knewel te koop.

Van die redes hoekom dié munt soveel meer as sy goudinhoud werd is, is omdat daar net 50 van hulle gemaak is en dit ’n besondere proses vereis het om sulke groot munte te vervaardig.

Die vraag is nou: Is dit beter om munte te versamel of om hulle as beleggings te beskou?

Egen sê dit hang af van persoon tot persoon.

As jy in goud wil belê omdat jy dit as ’n veilige belegging beskou, is muntmetaal-weergawes waarskynlik ’n beter keuse.

As jy egter hou van hoe ’n munt lyk en hul geskiedenis interessant vind, dan sal ’n versamelstuk eerder jou aandag trek. – Netwerk24