03 August 2018 | Toerisme

Gondwana-lodges blink uit

Tanja Bause



Die wêreld se grootste reis- webtuiste, TripAdvisor, en Eco Awards Namibia het onlangs ­erkenning aan Gondwana Collec­tion Namibia se ­deurlopende belegging in uitnemendheid, volhoubaarheid en natuurbewaring gegee.

Canyon Village in die Suide ontvang al die afgelope vyf jaar 'n sertifikaat van uitnemendheid van TripAdvisor. Om hierdie rede is dié Gondwana-lodge nou in Trip Advisor se Hall of Fame opgeneem.

Canyon Village is naby die Vis­rivier-canyon geleë en bestaan uit 42 kamers.

Dít volg nadat die Kalahari Anib Lodge vroeër vanjaar ook in dié aanlyn reistuiste se Hall of Fame opgeneem is.

TripAdvisor het ook 'n sertifikaat van uitnemendheid aan Namushasha River Lodge toegeken, wat in die verre noordooste van die land teen die betrokke rivier geleë is.

Dié sertifikaat word toegeken wanneer 'n voldoende aantal gaste uitstekende punte op TripAdvisor se bladsy vir 'n akkommodasie-­onderneming in een jaar gee.

Dit behels ook dat die onderneming minstens vier uit vyf punte in evaluerings behaal.

TripAdvisor is waarskynlik die wêreld se grootste reis- webtuiste en 'n waardevolle bron van inligting vir reisigers.

Webwerwe met die TripAdvisor-handelsmerk is deel van die wêreld se grootste reisgemeenskap, met 455 miljoen mense wat maandeliks meer as 7,5 miljoen akkommodasie­geriewe, lugrederye, restaurante en toeristeaantreklikhede besoek.

Die bladsy is in 49 lande wêreldwyd beskikbaar.

Danksy Gondwana se herhaalde pogings om water en elektrisiteit te bespaar, die natuur te beskerm, rommel op ekovriendelike wyse te verwyder en hul werkers te ontwikkel, is hulle deur die hoogste ekogehalte-toekenning in Namibië beloon.

Vier Eco Awards-woestynblomme is in 2014 aan Damara Mopane Lodge toegeken.

Woestynblomme is soortgelyk aan sterre wat aan akkommodasie-­instellings toegeken word, en 'n ­akkommodasiegerief kan hoogstens vyf woestynblomme vir erkenning van puik diens en gehalte ontvang.

Damara Mopane Lodge is in Mei 2018 geherevalueer en vir die eerste keer met vyf Eco-woestynblomme beloon.

Volgens mnr. Quintin Hartung, Gondwana Collection Namibia se omgewingsbeampte, is die toekenning 'n bewys van goeie lodge-bestuur, asook die voortdurende verbetering van die lodge se om­gewingsbestuur.

Canyon Lodge, Canyon Roadhouse, Canyon Village, Etosha Safari Lodge, Kalahari Anib Lodge, Namib Desert Lodge en Namushasha River Lodge van Gondwana het ook al vyf Eco-woestynblomme ontvang.

Deelname aan die Eco Awards is vrywillig.

Lodges wat vir evaluering registreer, kry 'n omvattende ­katalogus met voorgestelde maatreëls om ekovriendelikheid te verseker.

Deelnemers kan self besluit watter stappe hulle wil doen.

'n Onafhanklike evalueerder ­inspekteer die lodges en stuur sy verslag aan 'n paneel, wat dan op die evaluering en toekenning van ­woestynblomme besluit.