14 August 2018 | Politiek

Geslagsgeweld: Een tree vorentoe, twee terug

'Vrou moet man gehoorsaam'

Henriette Lamprecht



Dit is nóú die tyd vir vroue om hul kleim af te pen en sélf oor hul liggame, loopbane, lewens en verhoudings te besluit.

Dít is die oorkoepelende boodskap van die tiende uitgawe van die SADC-protokolbarometer vir geslag, wat gister amptelik saam met die #She­DecidesSADC-veldtog bekend gestel is. Die barometer gebruik twee maatstawwe: die empiriese SADC- Geslag- en Ontwikkelingsindeks (SGDI) en die persepsiegebaseerde Burgertelkaart (CSC).

Namibië het as nuwe voorsitter van die SADC die Gender is My Agenda-veldtog (GIMAC) se toekenning vir 2017 ontvang vir sy pogings om geslagsgelykheid in die land te bevorder.

As nuwe voorsitter is die hoop dat Namibië nou die bygewerkte SADC-geslagprotokol vir 2015 sal onderteken om dit amptelik in werking te stel.

Die afgelope dekade het 11 lande in die streek hul onderskeie grondwette hersien om geslagsgelykheid te bevorder. Al die lande, behalwe Botswana en Seychelle het nou spesifieke verwysings na die bevordering van geslagsgelykheid.

Vyf lande (Botswana, Lesotho, Malawi, Mauritius en eSwatini) het egter klousules wat voorkeur gee aan bepalings wat gelykheid kan ondermyn.

Sowat 55% van respondente in die gepaardgaande opname was dit eens dat mense oor dieselfde kam geskeer moet word, hetsy hulle 'n man of 'n vrou is.

In dieselfde asem sê 56% egter 'n vrou moet haar man gehoorsaam.

Ten spyte van die feit dat Suid-Afrika as deel van die SADC-groep die enigste land in die wêreld is met 'n grondwet wat seksuele oriëntasie erken, het slegs drie ander lande in die streek (Mosambiek, Demokratiese Republiek die Kongo en Seychelle homoseksualiteit gedekriminaliseer.

Positiewe nuus is egter ook dat die hoërhof in Botswana die regering opdrag gegee het om die geslag van 'n transgender vrou op haar identiteitsdokument te verander, terwyl ­eSwatini sy eerste Pride-optog gehou het.

Die verteenwoordiging van vroue in die onderskeie SADC-parlemente staan tans op 26%, 'n persentasiepunt laer as die basislyn in 2009, maar twee persentasiepunte hoër as die 24%-gemiddeld wêreldwyd en van Afrika suid van die Sahara.

Vroue se verteenwoordiging in die kabinet is egter laer op 20% en volg dieselfde neiging in plaaslike regerings met 23%.

Die afgelope verkiesings in Zimbabwe kry ook erkenning vir die vier vroulike presidentskandidate wat in die verkiesing gestaan het.

Uit die 15 SADC-lande het 13 nou gelyke inskrywings vir beide seuns en dogters vir die laerskoolfase, agt lande vir die hoërskoolfase en 11 vir die tersiêre fase.

Tog bestee meer as 20% van kinders tussen die ouderdomme van sewe en 14 jaar in nege SADC-lande hul dae aan werk in plaas van aan skool.

Die afgelope dekade het vroue se verteenwoordiging in ekonomiese besluitneming 'n skrale een persentasiepunt van 19% tot 20% gestyg.

Werkgewers in alle SADC-­lande betaal vroue ook minder as hul manlike eweknieë. Op 54% is die verskil tussen vroue en mans se gemiddelde inkomste die hoogste in eSwatini en die laagste in ­Botswana (12%).

Met verwysing na geslagsgeweld het ten minste een uit elke drie vroue in die streek dit al in hul leeftyd ervaar.

Emosionele mishandeling, die tipe geslagsgeweld wat die meeste voorkom, word egter die minste aangemeld.

Seksuele en fisieke mishandeling word ook weinig aangemeld, terwyl daar geen of min ondersteuning van regeringskant vir die voorkoming van geslagsgeweld en plekke van ­veiligheid is.

Slegs Suid-Afrika en Mosambiek het wetgewing wat aborsies op versoek toestaan.

Met verwysing na menstruele gesondheid en higiëne het Botswana die besluit geneem om gratis sanitêre doekies in skole te verskaf.