30 August 2018 | Tegnologie

Gerugte oor nuwe iPhone glo waar

Petrus Malherbe – Soos gewoonlik klap die skindertonge weer in die aanloop tot die aankondiging van die nuwe iPhone later vanjaar.

Apple maak gewoonlik sy nuwe produkte teen die einde van September bekend.

Luidens ’n verslag van Bloomberg, waarin bronne “met kennis van die situasie” aangehaal word, sal die ontwerp van die nuwe iPhone hoofsaaklik geskoei wees op die bestaande iPhone X. Net groter.

Dié onbekende bronne bevestig wel waaroor al lankal bespiegel is: dat drie afsonderlike iPhones vanjaar uitgereik gaan word.

Apple se nuwe vlagskipmodel sal die groter iPhone X wees, kompleet met ’n vinniger verwerker en ’n reuseskerm van nagenoeg 16,5 cm.

Een van die twee ander toestelle lyk glo op ’n haar na die iPhone X, maar ook met ’n vinniger verwerker. Die ander toestel is ’n goedkoper model wat ook glo baie soos die X sal lyk, maar met ’n swakker LCD-skerm in plaas van ’n duur OLED-skerm.

Dit beteken Apple-aanhangers sal nie vanjaar weer kan uitsien na ’n heeltemal herontwerpte iPhone soos met verlede jaar se X of 2014 se iPhone 6 nie.

Diegene in die binnekring beskryf dit juis as ’n sogenaamde “S-jaar” vir Apple, ’n jaar waarin die maatskappy nuwe fone uitreik wat grootliks dieselfde lyk as ouer modelle, maar met vinniger verwerkers.

Volgens Bloomberg se bronne beplan Apple om in 2019 weer ’n iPhone uit te reik wat beduidend anders lyk.

Die iPhone 8 is ook gekritiseer omdat dit te veel soos die iPhone 6 lyk.

Die iPhone X het nie so goed verkoop soos wat ontleders aan Wall Street gehoop het nie, maar verkope was steeds genoeg om Apple se aandeel in die slimfoonmark te vergroot.

Kenners meen Apple pas sy strategie aan deur nie elke jaar ’n splinternuwe foon uit te reik nie, maar eerder sy fokus ook elders te plaas, soos by bykomstighede soos die Apple Watch en AirPods. Apple Music is ook ’n groot fokuspunt as ontluikende bron van inkomste vir die maatskappy.

Apple het vroeër vanjaar bekend gemaak daar is meer as 1,3 miljard Apple-produkte in gebruik wêreldwyd.

Die maatskappy se aandeelprys het Dinsdag met 0,8% tot ’n rekord van $217,94 gestyg. Dit bring die maatskappy se totale markwaarde op $1 050 miljard te staan. – Netwerk24