23 August 2018 | Ministeries

Geogologiese baanbrekerswerk vir ||Kharas

Nuwe kaarte kan tot groot ontdekkings lei

Elvira Hattingh - Die ministerie van myne en energie vergader sedert gister met belangegroepe in die ||Kharasstreek nadat kartering in dié streek gedoen is om onder meer eksplorasiewerk en die ontdekking van nuwe minerale te bevorder.

Tydens die twee dae lange vergadering by die /Ai-/Ais Nasionale Park word nuwe gedetailleerde geologiese kaarte en gepaardgaande produkte bekend gestel.

Volgens ‘n dokument wat deur die ministerie aan media uitgestuur is, het hy vir die vier jaar tussen 2013 en 2017 deur middel van hul geologiese opname gedetailleerde geologiese kartering, op ‘n skaal van 1:50 000, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Raad vir Geowetenskap gedoen.

Die Karasburg-Wes, Karasburg-Oos, Berseba en Oranjemund-kiesafdelings is betrek.

Altesaam 30 nuwe geologiese produkte het hieruit voortgespruit, wat harde kopieë, digitale data, nuwe geochemiese en geochrononolgiese databasisse, asook geologiese verslae insluit oor sowat 25 000 km2 langs die Oranjerivier.

GROOT ONTDEKKINGS KAN WAG

“Die geologie van die suidelike dele van die ||Kharasstreek sluit twee hoof- geologiese provinsies van suidwestelike Afrika in, wat oor ‘n aansienlike aantal basismetale soos koper, lood en sink aan beide die Namibiese en Suid-Afrikaanse kante van die Oranjerivier beskik,” lui die ministerie se skrywe.

“Verder kan uraan en skaars metale soos tantalum, litium en seldsame aardmetale moontlik ook in die gebied voorkom, terwyl verskeie nywerheidsminerale en semi-edelgesteentes wel hier voorkom.

“Verder bestaan die moontlikheid dat steenkoolneerslae in die sedimentêre gesteentes van die jonger Karoo-supergroep voorkom. Die ||Kharasstreek is die tuiste van verskeie alluviale diamantmyne en verdere vooruitsigte vir meer sulke myne langs die kus en die Oranjerivier.

“Dié gebied hou dus groot moontlikhede in vir die ontdekking van nuwe mineraalneerslae, en gedetailleerde kaarte kan dus help om eksplorasiewerk in die gebied te doen,” is geskryf.

Die gebied aan beide kante van die Namibiese en Suid-Afrikaanse grens by die Oranje-rivier is aanvanklik in die middel sewentigerjare gekarteer. Sedertdien is geen verdere karteringswerk aan Namibië se kant gedoen nie.

AFGELEË PLEKKE AFGESKEEP

Veral die meer afgeleë dele van die land is tot dusver op ‘n verkenningsbasis gekarteer, maar dit voldoen nie aan die vereistes van moderne eksplorasie en infrastruktuurontwikkeling nie. Min kartering is tot dusver in die suidelike ||Kharasstreek, asook die noordwestelike Kunenestreek gedoen.

Die ministerie van myne en energie voer aan ‘n gebrek aan personeel met die nodige ervaring by die geologiese opname, asook ‘n geneigdheid van besoekende navorsers om slegs op wetenskaplike punte eerder as streekskartering te fokus, het daartoe gelei dat die geologiese kartering van die land sedert die 1990’s gestagneer het.

Daarom het die departement van geologiese opname ‘n tienjaarprojek vir streeksgeologiese kartering uitgekontrakteer.

Die doel van die projek is om die gedetailleerde geologiese kaartdekking van die land te versnel sodat mikpunte van onder meer Visie 2030, die Millenium-ontwikkelingsdoelwitte, die Harambee-welvaartsplan, asook die Nasionale Ontwikkelingsplan 4 en 5 behaal kan word.