12 July 2018 | Sport

Franse eerste keer sedert 2006 weer in WB-eindstryd

Gert van der Westhuizen - Frankryk se sokkerspan sal Saterdag vir die eerste keer sedert 2006 weer in 'n Wêreldbeker-eindstryd speel nadat hy België Dins­dagaand in St. Pietersburg met 1-0 geklop het.

Die Franse, wat met tye pragtige sokker opgedis en goed verdedig het, sou weet wie hul teenstanders is sodra gisteraand se ander halfeind­stryd tussen Engeland en Kroasië afgehandel is.

Met van die wêreld se beste aanvallende spelers op die veld, was dit Dinsdagaand die verdedigers wat die twee doelwagters die hardste laat werk het.

Samuel Umtiti het die enigste doel met 'n kopskoot ná 'n hoekskop in die 51ste minuut aangeteken nadat hy Marouane Fellaini in die lug geklop het.

Dit was slegs sy derde doel vir Frankryk.

Vroeër het die Belgiese verdediger Toby Alderweireld ook die beste uit die Franse doelwagter en kaptein, Hugi Lloris gehaal, met die beste doelpoging van die eerste helfte.

België was in die eerste halfuur die beste span met die meeste besit en gebiedsvoordeel, maar sy aanvallers kon nie afrond nie.

Frankryk het daarna beheer oorgeneem en vyf minute voor rustyd het die Franse verdediger Benjamin Pavard amper die Belgiese doelwagter, Thibaut Courtois, geflous.

Ná Umtiti se doel vroeg in die tweede helfte het België alles probeer om terug te slaan.

Die doelskieter Romelu Lukaku was egter glad nie die faktor van die vroeëre wedstryde nie en dit het nooit gelyk asof België, wat tot voor Dinsdagaand die meeste doele in vanjaar se toernooi aangeteken het (14), sy agterstand sou uitwis nie.

België het die geskorste Thomas Meunier ook gemis. Moussa Dembélé, sy plaasvervanger, kon nie behoorlik aan die gang kom nie en het dikwels besit prysgegee en kon ook nie byhou by die vlugvoetige Franse nie.

Hy is ná bykans 'n uur deur Dries Mertens vervang wat dadelik 'n verskil op die aanval gemaak het. Hy was woelig op die regterflank en veral sy dwarsskoppe was dodelik.

Dit het die Franse verdedigers aan die skarrel gehad, maar hulle kon elke keer daarin slaag om die bal weg te kry.

Lloris het die Belge in die 81ste minuut weer met goeie keerwerk moedeloos gemaak toe hy 'n langafstand-doelpoging van Axel Witsel uit sy doelhok gehou het.

Daarna het 'n klomp van die Franse toeskouers hul rug na die veld gedraai en begin feesvier.

Gelukkig kon hulle nie daarna die dikwels minder elegante geskarrel van hul verdedigers gade slaan nie. Courtois se goeie keerwerk, wat die Franse se voorsprong tot 2-0 of selfs 3-0 kon rek, kon hulle ook nie pla nie.

Hulle het net aan een ding gedink: die Wêreldbeker-eindstryd.

– Netwerk24