16 May 2019 | Gesondheid

Drie toets negatief vir Kongokoors

Ander uitslae nog uitstaande

Henriette Lamprecht – Uit die ses vermoedelike gevalle van Kongokoors het een positief en drie negatief vir die siekte getoets.

Die uitslae van nog twee gevalle is uitstaande. Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister tydens ’n nuuskonferensie gesê ’n man wat op 7 Mei in die Onandjokwe-hospitaal gesterf het, se uitslae vir die siekte was negatief.

Volgens Shangula is die 77-jarige man van die Onethika-nedersetting in die Olukonda-kiesafdeling met ’n hoë koors opgeneem en het hy bloed opgebring.

“Gegewe die simptome van die oorledene, is hy tydens ’n veilige begrafnis onder streng maatreëls begrawe om die risiko van blootstelling te verminder,” het Shangula gesê. ’n Paar dae ná sy dood het die man se weduwee gesondheidswerkers by die hospitaal ingelig dat ’n bosluis hom wél gebyt het, maar dat dit verlede jaar was.

’n Vyftigjare man wat op 8 Mei met ’n bosluisbyt in die Outapi-hospitaal opgeneem is, het intussen negatief vir die siekte getoets. Ook was die uitslae negatief van ’n 40-jarige man van die Okaku-nedersetting wat op 10 Mei in die Windhoek Sentrale Hospitaal opgeneem is. Volgens Shangula is die toestand van laasgenoemde pasiënte stabiel.

Die uitslae van twee gevalle is steeds uitstaande. Dit sluit in die van ’n 50-jarige man wat op 8 Mei in die Outapi-hospitaal opgeneem is, sowel as die van ’n 57-jarige vrou wat op 9 Mei in die Engela-hospitaal opgeneem is.

Die enigste geval wat positief vir Kongokoors getoets het, sluit ’n 54-jarige vrou van die Onethika-nedersetting in wat op 21 April in die hospitaal op Onandjokwe opgeneem is. Sy is positief vir die siekte getoets met die hulp van ’n bloedmonster wat na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) se streeks- en verwysingslaboratorium in Suid-Afrika gestuur is. Sy is op 11 Mei uit die hospitaal ontslaan.

Volgens Shangula werk die ministerie nou saam met die ministerie van landbou, water en bosbou wat bewusmaking onder veral boere oor die beheer van bosluise doen. Mense wat die risiko loop om die siekte op te doen, sluit ook dierewagters, hanteerders van lewende hawe, werkers by slagpale en beamptes betrokke by openbare dieregesondheid in.

Die minister het die publiek gemaan om dadelik mediese hulp te gaan soek sou hulle deur ’n bosluis gebyt word. Boere word voorts aangemoedig om bosluise onder hul lewende hawe doeltreffend te beheer.