24 August 2018 | Regering

Drie ooreenkomste op agenda met China

Tweede besoek in ses maande

Ronelle Rademeyer



Namibië en China gaan hul bande na verwagting met drie verdere ooreenkomste verstewig wanneer pres. Hage Geingob van 2 tot 4 September die Forum vir China-Afrika-samewerking (Focac) se beraad in Beijing bywoon.

Dit sal sy tweede besoek in ses maande aan dié land wees.

Die ooreenkomste wat die twee lande na verwagting gaan sluit, handel oor sogenaamde gordel- en padsamewerking, samewerking op die gebied van toerisme en visumvrystelling aan diplomate en mense wat dienste lewer.

Focac het in 2000 tot stand gekom as 'n forum waar leiers van China en Afrika ontwikkeling en samewerking kan bespreek.

Die eerste beraad het in 2006 in Beijing plaasgevind en die tweede een in 2015 in Johannesburg. Die tema van vanjaar se derde beraad is “China en Afrika: Na 'n selfs sterker gemeenskap met 'n gedeelde toekoms deur wen-wen samewerking”.

Luidens berigte sal samewerking opnuut bevorder word en ontwikkelingstrategieë in fyn besonderhede hersien word.

China het tydens die vorige beraad in 2015 reuseplanne aangekondig ingevolge waarvan hy landbou op die vasteland wil help moderniseer en industrialisasie wil bevorder. Altesaam US$60 miljard is hiervoor beloof. China se ambassadeur in Namibië, mnr. Zhang Yiming, het hierdie ooreenkomste geopper toe hy Woensdag 'n welwillendheidsbesoek aan pres. Hage Geingob by Staatshuis gebring het.

Nampa berig hy het verwys na die streng wyse waarop ­Zimbabwe en Angola visums in die verlede hanteer het en die uitwerking wat dit gehad het toe hulle beleide daaroor verslap het. Volgens hom het dit baie meer potensiële beleggers vanuit veral China gelok.

Hy het 'n beroep op die ­Namibiese regering gedoen om ernstige oorweging aan die visumooreenkoms te skenk.

Zhang het bygevoeg dit sal albei lande ewe veel baat en Namibiërs genooi om in China te belê.

Verder het hy benadruk China sal voortgaan om Namibië deur middel van toelae en lenings te help om sy infrastruktuur te ontwikkel.

Hy het intussen gister op sy Facebook-blad gesê Geingob se tweede besoek aan China binne 'n halfjaar is 'n “ferm demonstrasie” van Namibië se verbintenis tot die omvattende, strategiese samewerkingsvennootskap met dié land.

Meer as 50 Afrikalande sal die beraad na verwagting bywoon.

Geingob en Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa tel onder die ses staatshoofde wat die beraad sal toespreek. – Eie berig en Nampa