31 August 2018 | Kuns en vermaak

Dis (amper) heerlike lente!

Yolanda Nel - Watter beter manier om die winter te groet as met ’n heerlike mark in die middestad?

Vandag (31 Augustus) sal Mutual Tower Square in ’n opwipmark omskep word.

“En waar ‘n mark is, is altyd ‘n verskeidenheid kos,” vertel Dawn Maritz, organiseerder van die Windhoek City Market.

“Hierdie opwip-idee dien as ideale platform vir besighede in die omgewing om hulself te bemark,” sê sy.

Volgens haar lok ’n mark baie mense en blaas dit lewe in 'n buurt.

“Ons het ook besef uitstallers het 'n ongelooflike groot behoefte daaraan om hul produkte te verkoop. Sodoende skep ons nie net die geleentheid vir klein besighede om te groei nie, maar ons kan Windhoekers ook blootstel aan plekke waarvan hulle nie bewus was nie,” sê sy opgewonde.

Dawn het gesê hulle het juis op die Mutual Tower Square besluit weens die ongelooflike atmosfeer, “en dit is beslis die ideale omgewing vir 'n markie”.

Afgesien van heerlike kos en drinkgoed en ’n verskeidenheid stalletjies sal die talentvolle Miss H tussen 12:30 en 14:00 by die geleentheid optree.

Hoewel die stalletjies vir hierdie mark reeds vol bespreek is, is belangstellendes welkom om Dawn by [email protected] oor toekomstige geleenthede te kontak.

Enigiemand met idees vir ’n nuwe venue vir die opwip-mark kan haar gerus ook kontak.

“Ons wil lewe in die hoofstraat terugblaas,” vertel sy.