07 September 2018 | Rubrieke

Diere kry genade, maar mense moet ly

Verlede week moes ek en Spruit binne n oogwink ’n besluit oor lewe en dood neem.

Ons foksterrier-kruis-Jack Russellltjie, Spekkie, wat reeds 14 is, het kanker. Ons het geweet sy's vrekoud, haar tande is nie meer lekker nie, haar ogies is dof en sy hoor net wanneer mens iets oor kos sê. Haar spiertjies het lankal verdwyn en, soos ’n oumensie, het sy al maerder geraak ten spyte van groot opwinding met etenstye. Iemand het selfs opgemerk sy lyk soos ’n speellgoedbeertjie wat vóós gespeel is. Maar Spekkie het steeds meegedoen aan haar daaglikse roetine en saam met die ander honde rondgehol, en steeds bly voorgee sy's die alfahond.

Ons het geweet sy het nie meer lank nie - dalk ’n paar maande. Vrydag neem ons haar toe veearts toe om te hoor presies hoe lank ons nog het. Na hy haar ondersoek het, sê hy sy't aggressiewe kanker en weens haar ouderdom sal sy nie ’n operasie oorleef nie. Haar lot is dus lyding tot sy dood is. Hoe gouer ons haar uitsit, hoe beter.

Ná ek en Spruit die situasie bedink het, daaroor geslaap, gehuil en geredeneer het, besluit ons dit sou wreed wees om haar ’n pynlike, uitgerekte dood te laat sterf.

Saterdagoggend is ek terug by die veearts om haar te laat uitsit.

Ek skakel normaalweg my empath-knoppie met gemak af om myself te beskerm, maar Saterdag het ek vergeet. Die oomblik toe die veearts die oordosis narkose in Spekkie se pootjie spuit, raak my hele lyf warm en my bene lam. Amper soos om verlief te wees, amper soos om dood te gaan. Dis dieselfde gevoel.

Sy's dadelik weg. Sonder drama. Ek bly haar koppie en lyfie vryf tot die veearts bevestig haar hartjie het gaan staan.

Die wind is uit my seile, maar ek voel verlig. Spekkie hoef nie te ly nie.

Tussen snotbolle deur vra ek die veearts: "Is dit nie ironies dat ons diere kan uitsit nie, maar . . . "

"Maar mense moet ly. . ." voltooi hy my sin vir my.

"Ja. . . " sê ek.

Ek sien geen rede hoekom genade nie vir mense ook ’n uitweg kan wees nie.

In Suid-Afrika is ’n wetsontwerp nou ter tafel gelê wat volgens my báie goeie nuus is - die Lewende Testament-wetsontwerp (Living Will Bill).

Hiervolgens het mense die reg om te weier om kunsmatig aan die lewe gehou te word. Die SA publiek was uitgenooi om tot Saterdag toe insette hieroor te lewer.

Dié wetsontwerp is volgens my reeds ’n stap in die regte rigting, maar is baie nou gedefinieer. Wat van die reg om ook nie op ’n natuurlike manier te wil ly nie?

In Kanada is genadedood sedert 2016 wettig. Dr. Ellen Wiebe, ’n Kanadese dokter, het op economist.com geskryf oor die belangrikheid daarvan om beheer oor jou laaste dae te hê.

Ellen het sedert dié wet in werking gestel is, reeds 150 mense help sterf.

Sy sê as dokter is dit haar plig om te verseker haar pasiënte beleef “’n goeie dood".



Dit behels dat angs en pyn tot ’n minimum beperk word, dat die pasiënt in ’n gemaklike ruimte, soos by die huis, is, en dat die pasiënt die geleentheid het om van geliefdes afskeid te neem.

Ellen sê sy voel dankbaar dat sy mense kan help om met die minimum trauma vir hulle en hul geliefdes te sterf.

En met waardigheid.

Dis wonderlik dat hierdie genade vir mense in sekere lande reeds moontlik is.

Ek hoop dit sal in hierdie leeftyd nog vir ons almal bestaan.