25 June 2015 | Kuns en vermaak

Die vierde stem deur Francois Bloemhof

François Bloemhof is bekend daarvoor dat hy aanhangers van spanningsverhale telkens gee wat hulle soek – én wat hulle nie kon verwag nie.
Met Die vierde stem is dit waarder as ooit.
Die storie word vanuit meer as een perspektief vertel. Drie karakters – ’n kantoorwerker, ’n kopdokter en ’n skrywer – beïnvloed mekaar op maniere waarvan hulle onbewus is; die leser weet meer as hulle, hoewel nooit genoeg om te voorspel wat volgende kom nie.
Maar aan wie behoort die vierde stem? Waar kom sy vandaan? Watter rol speel sy in dié gebeurtenisryke intrige, en wat is haar vreeslike oplossing?
Dis net ’n paar van die vrae, en die antwoorde is uitklophoue.
Aangetrokkenheid en afhanklikheid. Konflik, magspeletjies en die ou-ou stryd tussen haat en liefde. Alles in een sielkundige riller saamgebind met ’n blik op menseverhoudinge wat lesers nie aldag beskore is nie.
François Bloemhof is op 15 September in die Paarl gebore. Hy het begin skryf nadat sy Engelse onderwyser hom 97% vir ’n kortverhaal gegee het (dit was in graad 11). Hy matrikuleer aan die Hoërskool Tygerberg en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1992 behaal hy ’n MA-graad in Afrikaanse letterkunde.
Hy het in 1991 op die Suid-Afrikaanse literêre toneel verskyn as De Kat-pryswenner met sy debuutroman Die nag het net een oog. Daarna was Koue soen, een van die finaliste in die Sanlam/­ De Kat/Kuns op Een romanwedstryd van 1994 en ook in die M-Net-kompetisie. Hy het later vir jonger lesers ook begin skryf, en het selfs vier ATKV-kinderboektoekennings (’n kompetisie waarin jong lesers self hul wenboeke aanwys) ontvang, asook pryse vir jeugromans soos Slinger-slinger en Nie vir kinders nie in Sanlam se Jeug­roman-wedstryd gewen.
In 2007 was hy tweede in die MML-letterkundeprys met Stad aan die einde van die wêreld.
Daar het al meer as 300 tydskrifverhale, meestal onder skuilname, van hom verskyn. Hy woon in Durban­ville en is deeltyds kopieskrywer, vertaler en redigeerder.
Die vierde stem (ISBN: 9780798168274) word deur Human & Rousseau vrygestel.