07 September 2018 | Misdaad

Die lokaas was ’n bekende gesig, glo siener

Vrees lê land lam

“Ons het ’n reusetaak as ’n land. Dié is ingewikkelde kwessies met die reuk van mensehandel en die handel in liggaamsdele. . . ” – Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal van die Namibiese polisie

Denver Kisting – “Dis amper asof jy besig was om vir jou ’n rokpatroon te knip. Dan kom iemand en sê dis lelik. Dan verflenter jy daai lap, omdat jy kwaad is.”

Haar moordenaar(s) het ’n vuil, bruinerige lap in haar mondjie geprop – waarskynlik om te verhoed dat sy om hulp skree.

“Dis morsig gedoen. Dis grusaam. Dis onmenslik en dis hartverskeurend. Jou hart raak seer om te dink dis ’n mens wat soos ’n dier uitmekaar gesny is, en onmiddellik dink mens aan jou eie kinders. ’n Mens kan nie sê jy weet hoe daai ma voel nie, want jy weet beslís nie.”

Só sê iemand wat die érg verminkte lykie van die negejarige meisietjie gesien het.

Dié makabere vonds verlede week in ’n stuk veld in Windhoek het Namibië tot in sy fondamente geruk en spook steeds by almal.

Wanneer haar oorskot môre in die Gammams-begraafplaas in Windhoek ter ruste gelê word, is dit sonder verskeie liggaamsdele.

’n Tradisionele geneser het die afgelope week aan Republikein vertel dié is maar net die begin van veel donker tye wat die land betree. “Dis demoniese tye. Die lug is vuil.”

Omdat die tenger meisietjie se onderlyf ook steeds soek is, was die polisie aanvanklik nie seker of dit ’n seuntjie of ’n meisietjie is nie.

Haar moordenaar(s) het haar koppie, met die netjiese vlegseltjies, afgesny, maar hoofsaaklik ongeskonde gelaat.

Dáárvolgens kon haar oupa toe bevestig dis inderdaad sy. Die pragtige gesiggie was nog onmiskenbaar dié van sy eens sorgelose kleindogter.

Oor dié grumoord het die tradisionele en spirituele geneser die afgelope Woensdagaand in ’n skemer vertrek gesê: “Dit is met siek bedoelinge gepleeg. Dit was ’n ritueel wat met baie donker bedoelinge gedoen is.”

Dit duur nie lank nie voor hy ’n bom loslaat – een van verskeie tydens die uur lange gesprek:

“Dit is ’n herhaling van iets wat vantevore gebeur het, maar dié keer gebeur dit net op ’n ander plek.”

Hy glo vas meer as een mens was by die ontvoering, moord en skending van dié gr.3-meisietjie betrokke.

Voor verlede Dinsdag 28 Augustus het die meeste Namibiërs nie geweet van Avihe Cheryl Ujaha se bestaan nie.

En toe die land van dié naam kennis neem, was dit té laat.

Haar kort lewetjie is toe reeds grusaam en gewelddadig kortgeknip.

Sedertdien is dit omtrent ál waaroor daar gepraat en veral bespiegel word – gedemp in kerke, kekkelend in taxi’s, aan die hand van teorieë in nuuskantore en fluisterend op straat.

Grootskaalse paniek woed ook in die virtuele wêreld – plasings van verdwene kinders en allerlei beweringe hierrondom word daagliks taktloos die wêreldwye web ingestuur.

WhatsApp-groepe bars uit hul nate met kleurryke en dikwels onsensitiewe beeldmateriaal oor die lot wat weerlose kinders oral te beurt val.

Uit die staanspoor uit het Avihe se verminking mense aangegryp.

Talle bly van mening dit was ’n rituele moord – ’n moetiemoord as ’t ware.

Die tradisionele geneser beweer Avihe het waarskynlik nog gelewe toe die moordenaar(s) begin het om haar organe te oes.

“Die doel waarvoor dit gedoen is, het vereis dat sy nog moes lewe,” reken hy.

Dié doelwitte kan volgens hom ’n paar moontlikhede insluit.

Onder meer word mensbloed en –organe geoes om gesondheid, welvaart en ’n lang lewe te bereik.

Hy waarsku vinnig dat daar ’n wanopvatting oor moetie bestaan. Verskeie wanopvattings, trouens.

Sy beskouing is dat moetie met genesing moet help en nie met kwade bedoelens gepaard moet gaan nie.

“Menselewens is kosbaar – dit is hoe ons dit sien, ook in die Afrika-sin van spiritualiteit. Dit is die hoogste vorm van bestaan.

“Wanneer iemand dus ’n menselewe neem, wéét jy dis met kwade bedoelinge gedoen.”

Boonop is Namibiërs se walging ’n aanduiding dat daar geen twyfel bestaan oor dié euwel nie, sê hy. “Liggaamsdele van mense kan nie as moetie gebruik word nie. Moetie het ’n positiewe betekenis. Dié was toordery.”

Nóg ’n bom: Hy reken tussen vier en vyf mense was by Avihe se verdwyning en moord betrokke.

Een van hulle kom uit haar binnekring en is as aas gebruik om haar vertroue te wen en haar te lok.

Haar familie is op rekord dat sy nooit met ’n vreemdeling die pad sou vat nie.

“Die polisie moet nader snuffel. As hulle ferm genoeg is, sal dié man crack en só die ander ook aan die kaak stel. Dít is die ding – vir haar om ontvoer te gewees het, moes daar aas gewees het. Die aas was ’n bekende gesig. Hulle moet regtig in die binnekring krap.”

Die mens uit Avihe se binnekring is dus manlik?

“Dis ’n hy, ja. Die een wat haar geken het,” beweer hy.

Volgens die geneser ervaar dié man tans geweldige skuldgevoelens en dááruit moet munt geslaan word vir die saak se deurbraak.

“Hulle moet veral kyk na ’n jong persoon.”

Bom ná bom ná bom.

Hy sê die polisie en genesers móét saamwerk om seker te maak geregtigheid geskied deur die moordenaar(s) aan die pen te laat ry. “Die polisie sal moet met genesers in die gemeenskap in gesprek tree.

Maar diskresie is lewensbelangrik, waarsku hy. “Die volgende skuif kan ’n aanslag op die lewe van ’n geneser wees, omdat die verdagtes sal probeer vasstel wie saam met die polisie werk. Die polisie sal báie diskreet moet wees. Hulle (die moordenaars) sal kom vir mense en dit gaan nie mooi wees nie.”

Die geneser sê selfs hulle (genesers) word nie deur demoniese magte gespaar nie. “Dit is ’n pynlike ding. Ek slaap nie. Daar is ’n sin van vrees – selfs vir my. Ons het almal ’n verantwoordelikheid (om die saak te help oplos).”

Hy sê daar bestaan talle wanopvattings oor tradisionele geneeskunde en mense wat ’n blik het op omstandighede wat ander nie kan sien nie.

Dikwels loop hulle ook kwaai deur onder veroordeling, sê hy. “Tradisionele genesers word baie gebrandmerk en wanvoorgestel. Mense beskou dit as iets boos terwyl dit inherent deel is van Afrika én Namibië se spiritualiteit. Ons maak nie dood nie.”

Hy gee egter toe álmal dra goed en kwaad binne hulself.

Dit sluit genesers in.

“Ons het almal lig en donker binne ons. Daar kan dus ’n geneser wees wat die pad byster geraak het en oorbeweeg het na die ander kant weens, byvoorbeeld, gierigheid.

“En op daardie punt sal die voorvaders, wat vir jou die gawe gegee het, dit in elk geval wegneem.”

Avihe se geval is geen afsonderlike voorval nie, sê hy. Namibië beleef in die algemeen tans donker tye.

“Daar is wantroue. Daar is vrees. Daar is soveel donkerte. Die energie is net nie reg nie. In die land en in Windhoek in die algemeen. Mense moet baie waaksaam wees. Die tye is nie meer goed (fine) nie. Ons het ’n lelike tydperk betree. En wat in die geestelike ruimte gebeur, raak álmal.”

Dié troebel tye word veral teweeg gebring deur hoe geld en mag mense meesleur.

Hoewel ons nog nie die einde van gruwels van dié aard gesien het nie, sal dit ’n rukkie duur voor iets soortgelyks aan Avihe se geval gebeur, sê hy.

Selfs ander, onverwante mense wat op húl soeke na gesondheid, rykdom en ’n lang lewe iets soortgelyks in die mou gevoer het, sal eers laag lê. “Hulle sal dit eers later weer doen.”

Dit is omdat dié vermeende booswigte weet almal is tans op hul hoede, sê die geneser.

Intussen sal ons steeds aan geweld en moord stik, maar waarskynlik nie dadelik weer die bitter pil van ’n verminkte meisietjie hoef te sluk nie, meen hy.

Hy sê dit is belangrik dat owerhede strategies optree.

Behalwe dat die binnekringmens só naby is dat niemand nog oor hom onraad vermoed nie, hou hy en sy medepligtes ook die ontvouende gebeure fyn dop, glo die geneser.

Hulle verslind elke brokkie nuus oor die polisieondershoek en wat die media berig, sê hy. “Hulle volg die nuus soos dit gepubliseer word.”

Die geneser voel die enigste weg deur dié donker tonnel is vir mense om meer spiritueel bewus te raak. Dit sluit beraadslaging met tradisionele genesers in, sê hy.

“Dit het tyd geword vir mense om terug te keer na genesers. Daar is net soveel wat die kerk kan doen.”

Dis egter belangrik om in gedagte te hou die spirituele ruimte word nie van donkerte gespaar nie. “Daar is donkerte betrokke by alle vorme van spiritualiteit. Hoewel dit belangrik is om in voeling te kom met jou egte, spirituele self, móét mens ook kennis neem van die donkerte. Die kerk is goed, maar dit het hierdie ding dat dit mense se begrip inperk.”

Apostel Jennifer Moetie, ’n Windhoekse pastoor en bekende weervoorspeller, het gister gesê die tragedie het die land op sy knieë: “Ons is verbitterd en ons is seer.”

Sy gee die geneser gelyk dat diep, donker en demoniese magte dalk hier te sprake is.

Moetie meen daar moet positiewe energie in die rigting van die moordenaars gestuur word.

Dit kan help dat hulle die moed kry om hulle oor te gee.

“Ons moenie oordeel nie, want dís wat die vyand wil hê.”

Maar, sê sy, daar moenie van Avihe se hartsmense, veral haar ouers, verwag word om dadelik haar moordenaars te vergewe nie.

Só baie gedagtes maal deur háár kop, sê Moetie. Onder meer wonder sy of Avihe nog gelewe het toe haar uur van onheil aangebreek het.

Sy sou verseker gewonder het waar haar ouers was in daardie donker uur om haar moontlike gille te hoor en haar te hulp te snel, sê dié predikant.

“En hulle was nie daardie tyd daar nie.”

Hoewel sy nie beslissend kan sê toordery is wel agter die grudaad nie, bestaan die vermoede tog. “Dis ’n verskriklike ding.”

Kassie:

Me. Yvonne Dausab, die voorsitter van die regshervorming en -dienskommissie (LRDC), sê: “Daar bestaan reeds wetgewing wat gebruik kan word om skadelike kulturele praktyke in die land aan te spreek.”

Die mees beduidende een, sê sy, is die onlangs goedgekeurde wet op kindersorg en –beskerming.

Hierdie wet maak voorsiening daarvoor dat ’n kind nie onderwerp mag word aan enige maatskaplike, kulturele en/ of geloofspraktyke wat nadelig is vir sy of haar welstand, verduidelik Dausab.

Die totstandkoming van hierdie wetgewing is ’n aanduiding dat daar politieke wilskrag bestaan om sulke praktyke wortel en tak uit te roei, meen Dausab.

Hoewel dié wet reeds deur die parlement goedgekeur is, moet dit nog in werking gestel word, sê sy.

Sy sê wette is weens hul ontwerp dikwels nie voorkomend nie, maar bly noodsaaklik. “Dít is so, omdat ’n persoon die daad sou moes gepleeg het voor die wet kan inskop. So, die reg is belangrik, maar kwessies soos skadelike kulturele praktyke vereis ’n gesamentlike stem van die samelewing.”

Sy sê sulke skadelike praktyke kan omskryf word as dié gedrag wat al só lank teen vroue en dogters in sekere gemeenskappe gepleeg word dat dit as aanvaarde kulturele praktyke gesien word.

Dit sluit in, maar is nie beperk tot, kinderhuwelike, vroueslanery, die sny en skending van meisies, toetse tydens inlywingseremonies om seksuele gereedheid te bepaal, die beoefening van droeë seks, weduweereiniging en die roof van weduwees van hul erfporsie, sê sy.

Volgens Dausab is moetiemoorde skadelike kulturele praktyke en daar bestaan geen rede hoekom sodanige praktyke nie ingesluit moet word in voorgenome wetgewing om vernietigende kulturele gewoontes hok te slaan nie.

Sy benadruk die doodmaak van mense (vir liggaamsdele) – hetsy weens misleide tradisionele waardes of nie – word geag as moord onder die land se gemenereg.

Die verwagtinge van waartoe die reg in staat is, moet egter bestuur word, sê sy.“Hoewel daar altyd ruimte is vir verbetering, moet ons onthou die mandaat van die regstelsel is om diegene wie se optrede buite die regsraamwerk is, te straf.”







Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, het gister gesê afgesien van die vermeende reeksmoordenaar wat destyds die land regop laat sit het, is Avihe se geval uniek.

Sowat 12 jaar gelede is die opgekapte lyk van me. Sanna Garoës op verskeie plekke buite die hoofstad versprei gevind.

Haar moordenaar(s) is vandag steeds op vrye voet.

Die vermoede van ’n reeks verwante moorde het ontstaan toe die polisie talle ander moorde op vroue in daardie tydperk nie kon oplos nie.

Hulle krap stééds kop.

Van die vroue was volgens ingeligtes sekswerkers wat in en om die hoofstad verdwyn en later leweloos en sans sommige liggaamsdele opgeduik het.

Ndeitunga het gister gemaan ouers moet beter na hulle kinders omsien. “Ons moet (te alle tye) weet waar hulle is en met wie. Daar is ’n baie hoë vlak van verwaarlosing van kinders en dít moet verhoed word.”

Die nasionale polisiehoof het hom beroep op die howe om strenger strawwe uit te deel aan ouers wat hul kinders verwaarloos.

Met die hulp van die ganse land gaan die polisie volgens hom alles in die stryd werp om Avihe se moordenaar(s) te laat boet en voornemende geweldenaars in hul spore te stuit, sê Ndeitunga.

Hy het bygevoeg: “Ons het ’n reusetaak as ’n land. Dié is ingewikkelde kwessies met die reuk van mensehandel en die handel in liggaamsdele…”

· Republikein weerhou die name van van die bronne uit vrees vir vergelding en vanweë professsionele redes.