17 August 2018 | Mense

Die legendariese oom Lukas Nel

Die mango-koning van Tsumeb

Tanja Bause - “Ek is 96 jaar oud en loop nog sonder ’n kierie omdat ek nooit gerook en gedrink het nie en altyd fisies besig was.”

Op ‘n plaas buite Tsumeb woon oom Lukas Nel en sy vrou, tannie Joey.

Oom Lukas, ook bekend as die “mango-koning”, het onlangs met Republikein oor sy kleurvolle lewe gesels.

Hy begin sy verhaal in 1927, toe hy saam met sy pa en twee susters met ’n stoomtrein na die destydse Suidwes-Afrika gekom het.

Sy oom W.G. Nel en sy vrou, Johanna, het vooruitgegaan en sy ouma en oupa het mettertyd gevolg.

“My ma het ’n gewas op die brein gehad wat haar sielkundig aangetas het. Sy is in ’n inrigting in Pretoria opgeneem en het nooit by ons in die nuwe land aangesluit nie,” het hy gesê.

Oom Lukas onthou nog duidelik die reis met die stoomtrein van De Aar af tot in Kalkfeld wat sowat sewe dae geduur het.

“Tydens die reis het ons deur die suide van die land gery en ek het vir die eerste keer in my lewe, deur die venster van die trein, springbokke gesien. Ek onthou dit soos gister; ek wou nie weg van die venster nie. Ons het ook volstruise en gemsbokke gesien.”

Die Nel-familie het vervolgens op die plaas Oviroroa in die Kalkfeld-omgewing aangekom wat aan ouma en oupa Nel behoort het. Daar het hulle in ’n huis van houtpale met ’n misvloer en sinkplaatdak by die veepos gaan bly.

“My pa het 5 pond in sy sak gehad waarmee hy ’n nuwe begin moes maak. Die lewe was moeilik.”

Oom Lukas vertel die drie kinders het snags op een bed onder ’n velkombers gelê en na die jakkalse geluister. “Ouma het ons altyd bang gemaak met die jakkalse; sy het gesê dat hulle kinders kom vang wat nie hulle voete was nie.”

Sy tante Heila Lafiena het hom daar op die plaas leer lees en skryf, en hy het sy skoolloopbaan op Kalkfeld, Outjo en Swakopmund voltooi.

TWEEDE WÊRELDOORLOG

Op 3 September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Dit sou oom Lukas se lewe verander.

Hy vertel vlieëniers van die Suid-Afrikaanse eskader het destyds by ’n skoolvriend tuisgegaan. Die vriend het vir hulle die stories van die manne in uniform vertel. Weldra het die gedagte by hulle begin posvat om ná skool by die lugmag aan te sluit.

“Oral op die straat was daar plakkate, met ’n hand en vingers op, wat gesê het: ‘Ons het jou nodig’. Oorlog was seker in my bloed, want my oupagrootjie was deel van die Slag van Bloedrivier in 1838 in Natal en my pa het in die Eerste Wêreldoorlog geveg.”

In 1940 het hy en sy vriend by die lugmag aansoek gedoen.

“’n Paar weke later het ek die oproepinstruksie van Pretoria gekry met reis- en kosdokumente. Ek het hulle laat weet dat ons net ons eindeksamen vir graad 10 moet klaar skryf en dan is ons op pad.”

Oom Lukas moes op 20 Januarie 1941 in Pretoria aanmeld, maar hy het sy pa se handtekening benodig omdat hy minderjarig was. Sy pa wou nie hê dat hy by die lugmag aansluit nie en sy oom Willem het toe die toestemmingsbrief onderteken.

“My pa was baie ongelukkig hieroor, maar Willem was die ouer broer.” In Pretoria wou hy eers "uitvind hoe werk vliegtuie voordat ek op een klim", en is as werktuigkundige opgelei. Daarna is hy lugmag toe. Op 16 Desember 1942 het twee eskaders per trein van Pretoria na Durban vertrek. Sy pa het hom op die stasie kom afsien.

“Hy was baie hartseer toe hy groet omdat hy gedink het dat ek nooit sal terugkom nie. Min het ek geweet dat sy lewe korter was as wat ons gedink het. Hy is met maagkanker gediagnoseer en het op 24 April 1943, een dag ná sy verjaardag, gesterf,” vertel oom Lukas.

In Durban is hulle op verskeie sendings ontplooi. “Ek het meestal in Noord-Afrika diens gedoen, maar was ook ’n paar keer in Europa. In die tyd wat ek in die lugmag was, het ek drie noodlandings gedoen,” sê hy asof dit die normaalste ding op aarde is.

In die eerste van ander noue ontkomings was oom Lukas die vlugingenieur op 'n DC3 wat vroegoggend uit Tripoli na Italië vertrek het.

“Die mis het oor Napels gelê en die sig was baie sleg. Ons kon nie land nie en het besluit om Malta toe te vlieg. Die brandstof was al redelik laag en ons moes aan planne begin dink sodat ons die passasiers veilig op die grond kon kry.

“Naby Malta sny die een enjin uit, ek skakel dit af en maak die nodige aanpassings aan die propeller. Malta is in sig. Ons verloor hoogte en het net nog een enjin. Toe ons oor Malta se kranse vlieg, sny die ander enjin uit. Met ons afdaalspoed het ons dit net-net oor die veiligheidsheining tot op die vliegveld gemaak.”

Oom Lukas het vyf medaljes vir sy diens gedurende die oorlog wat van 1939 tot 1945 geduur het, van die weermag ontvang.

Hy het later weer by die weermag aangesluit, dié keer op Potchefstroom, waar hy mettertyd tot kommandobevelvoerder bevorder is. “Ek was 16 jaar die bevelvoerder en my eenheid is as nommer een in Suid-Afrika bekroon op die gebied van dissipline en administrasie,” sê hy trots.

“Ek het ook in Namibië my dienspligverpligtinge nagekom en troepe in die Noorde gelei totdat ons in 1989 ons wapens moes teruggee.”

BOER

Met sy ontslag uit die lugmag in 1945 het oom Lukas na Suidwes-Afrika teruggekeer om te boer.

Sy oom Willem het gedurende sy dienstyd in die lugmag vir hom beeste aangekoop om die boerdery mee te kan begin.

Willem het twee plase naby Tsumeb besit wat vir oom Lukas die geleentheid gebied het om hom daar te vestig. Hy het sy beeste van Outjo af na die plaas Seringboom by Tsumeb getrek om met die nuwe hoofstuk in sy lewe te begin.

’n Stuk grond aangrensend tot Seringboom is gekoop en Malta genoem, na die eiland waarop hy sy eerste noodlanding gemaak het.

“Ek het in 1946 die boerdery begin. Om die plaas op te bou en verbeteringe te kan doen, het ek by die myn op Tsumeb om werk aansoek gedoen. Ek het werk in die kragstasie as passer en operateur gekry.” ’n Bedford-lorrie is aangeskaf waarmee hy groente vir ’n boer van die Guinas-meer af tot in Tsumeb aangery het. Hy het ook beesmis, sand en pale vir die myn en ander boere vervoer. Die tambotiepale het hy self gekap.

“Geen werk is te sleg om te doen om op die voete te kom en te kan bly nie.

“Ek het dag en nag tot so ver as anderkant Otavi gery. Ek het ook later ’n boormasjien gekoop en 110 boorgate self geboor. Boorgate wat ek self aangewys het. Met die geld wat ek verdien het, het ek Malta uitgebrei en in 1973 in ’n wildsplaas omskep. Dit was een van die eerste wildplase in die noorde van die land.

“Vier keer was ek en my boerdery plat op die grond. Die eerste keer het die leeus al my beeste gevang. Die tweede keer het beeste wat nie teen siektes ingeënt was nie, op my grond gekom. Ek het binne 14 dae 96 van my beeste verloor. Toe tref die groot droogte my, en die vierde keer het die kommandowurms my hele plaas se weiding opgevreet. Maar ek het nooit opgegee nie.”

Oom Lukas het Malta verkoop en ’n plaas nader aan Tsumeb gekoop wat hy Uitspan genoem het, met die gedagte om daar tot ruste te kom.

“Maar van rus was daar geen sprake nie; ek het die plaas opgebou en ook baie vrugtebome geplant. Ek het die naam ‘mango-koning van Tsumeb’ gekry. Maar ek het ook onder meer koffiebosse, koejawel-, piesang-, avokado-, papaja, lietsjie- en naeltjiebome geplant.”

“Ek het Duitsland toe gegaan en na hulle pampoene gekyk. Daar het ek ’n rooierige een gevind waarin ek baie geïnteresseerd was. Ek het van die sade gekoop en vasgestel dat die soort pampoen baie goed in ons grond aard. Met trots kan ek sê ek is die skepper van die Lukas Nel-pampoen. Dit is ’n kruising tussen ’n botterskorsie en ’n gansnekpampoen.”

SPORT

Toe die Tsumeb Corporation Limited (TCL)-myn op dreef gekom het, het baie mense van Suid-Afrika vir werk Tsumeb toe gekom.

Die kroeë het floreer en dronkenskap het toegeneem.

“Ek het besluit om iets aan die dronkenskap te doen en in 1947 die eerste rugbyklub gestig. Maar nie almal het in rugby belang gestel nie en daar is ’n stoei-, liggaamsbou- en joejitsoeklub gestig. Alles om die manne uit die kroeë te hou,” vertel oom Lukas.

“Ons rugbyklub het die eerste Springbok-speler uit Suidwes opgelewer in 1953, naamlik Sias Swart.”

HUWELIK

Op 24 Maart 1951 het oom Lukas met Johanna (Joey) Oppermann in die huwelik getree. Vyf kinders is uit die huwelik gebore.

Oom Lukas se lewensverhaal en dele daarvan is in 15 verskillende boeke opgeteken.

Hy sluit die gesprek met Republikein af met dié raad: “Moet nooit ‘n belofte maak wat jy nie kan hou nie, en bedank die Hemelse Vader elke aand dat hy almal in die land ongeag kleur, taal of geloof beskerm.”