08 February 2019 | Sakenuus

Diamante plaaslik gesny en gepoleer

Fabriek in Katutura

Tanja Bause - Deur diamante self te sny en te poleer word waarde tot die plaaslike ekonomie gevoeg.

Met hierdie doel voor oë is DYS-diamantvervaardigers in September 2016 gestig.

Die maatskappy bestaan uit drie groot internasionale diamantmaatskappye, naamlik Dalumi Group Diamonds, Yerushalmi Bros Diamonds en SAHAR ATID Diamonds.

Reign Investments, ’n Namibiese maatskappy wat in 2007 gestig is, is DYS se plaaslike vennoot.

Die maatskappy se aandeelhouers bestaan uit ’n groep Namibiese entrepreneurs met ervaring in mynbou, sake, finansies en ingenieurswese.

Volgens mnr. Frans Ndoroma, direkteur van DYS en Reign Investments-aandeelhouer, is die maatskappy in reaksie op die regering se versoek vir waardetoevoeging in die land gestig.

“Ons het die maatskappy begin om waarde tot ons diamante te voeg deur hulle self te sny en poleer. Maar ook om werk te skep en vaardigheidsontwikkeling te bevorder,” het Ndoroma gesê.

Die fabriek is in 2005 in Katutura opgerig.

“Ons het besluit om dit daar te bou omdat die meeste van ons werkers van Katutura en Khomasdal afkomstig is. Ons wou hulle help om vervoerkostes na byvoorbeeld Prosperita te spaar,” het hy gesê.

Tot dusver het DYS meer as N$62 miljoen in toerusting belê.

Altesaam 91 werknemers is in diens van die maatskappy, waarvan 78 Namibiërs is.

“As ons genoeg hoë gehalte rou diamante kan kry, kan ons meer mense aanstel. Ons het plek vir 190 werkers. Maar tans is daar nie genoeg rou diamante beskikbaar nie,” het mnr. Edwin John, fabriekbestuurder, gesê.

“Die oordrag van vaardighede is vir ons baie belangrik. Toe ons begin het, het ons 23 uitgewekenes gehad. Vandag het ons slegs 13. Hulle word met Namibiërs vervang sodra die vaardighede oorgedra is, hoewel ons nie almal kan vervang nie omdat ons gedurig die nuutste en modernste tegnologie en masjiene aankoop en uitgewekenes nodig het om met opleiding te help,” het John gesê.

“Die prys van rou diamante styg voortdurend. Dus moet ons in nuwe masjiene en tegnologie belê om ons pryse gedurende produksie te kan sny en die maksimum waarde uit ’n rou diamant te kry,” het hy gesê.

Die rou diamante word by Namibia Diamond Trading Company (NDTC) aangekoop en die finale produk word na Dalumi Group Diamonds, Yerushalmi Bros Diamonds en SAHAR ATID Diamonds in Israel uitgevoer, wat dit wêreldwyd versprei.

Elk van dié maatskappye plaas bestellings vir spesifieke diamansnitte.

Dalumi byvoorbeeld verkies die Swana-diamant – ’n uniek gepatenteerde snit met 89 fasette wat ’n perfekte ster met agt punte vorm.

Dié snit word net by fabrieke in Botswana en Namibië deur ’n uitgesoekte groep kundiges gesny.

Elke Swana diamant word deur ’n laser geëts met die Swana-embleem en sertifikaatnommer.