07 September 2018 | Kuns en vermaak

Dié boek klots van die clichés

Soos 'n malvalekker in 'n mikrogolfoond knal Annie Klopper se debuutroman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak, jou gemoed reeds met die eerste oogopslag poeierblou en skelpienk vol.

Die ironiese traanoë van die Banana Yoshimoto-voorbladnooi en die “tragiese saak” waaroor die titel dit gemaak-dramaties het, roep 'n meisie op wat langs 'n snelle vliet vol Creme Soda haar droefnis afslyt.

Maar met die veglus van Pamina in Mozart se Die towerfluit sal sy tog sekerlik gou-gou die biggel­water met 'n giggel afdroog, haar klere in swartsakke agter in haar Opel Kadett gooi en haar teen die “­Koningin van die Nag” gaan verset.

Pamina Vermaak, tot op bladsy 1 'n redaksielid van die voorste ­Afrikaanse vrouetydskrif Eva, se ma sit nie werklik op 'n troon nie, maar Witwaterbaai aan die Weskus is in haar gemoed tog 'n koninkryk. Nadat 'n reeks skandalige gebeure op die aand van haar matriekafskeid haar goeie naam van haar los­geruk het, is Pamina in selfopgelegde ­ballingskap Kaap toe. Die ­afgelope 11 jaar had sy met haar huisgesin weinig kontak.

Maar as die dwingelandy van werk onder René Meiring (geen verwantskap nie) – wat haar redakteursbrief met die hand onderteken (met 'n hartjie wat vir die akuut op die “e” instaan) – net te veel raak, bring Pamina haar medialoopbaan hoog in 'n toring­gebou in 'n skouspel tot 'n einde. Of so dink sy. Soos Kaapse troetelwoorde, hutsmerke en emoji's die wêreld vol sputter, storm Pamina tegelykertyd haar verlede en haar toekoms ­tegemoet.

Elders in die Moederstad word Wolf de Jager, 'n musikale vos wat die vorige nag sy volle land vol gars gestroop het, uit die newels wakker. Op die stoep van sy reuse-huis waarvan net twee vertrekke meubels het, gluur 'n Zippo-aansteker met die naam Daniella in krulletjies daarop gegraveer hom met waarsku-oë aan.

Sy bestuurder, AJ, tier nader en lees hom die rockster-leviete voor. Moenie, seg hy, jou loopbaan met soveel entoesiasme die see in jaag nie. Opbring is nie sing nie. Kort voor lank sien Wolf rede in en rig ook hy, vir reiniging en heling, sy motor se neus Weskus toe.

In vinnige flitse hou die derdepersoonsverteller dán Pamina, dán Wolf se vordering dop. Netjies ontvou iets wat die leser uit die staanspoor besef 'n romanse móét word. Wanneer gaan die tweetjies immers uit hul verskillende windrigtings in een ­kameraskoot beland?

Nie so maklik nie, raak die leser gou wys, as Pamina se pad huiswaarts heel letterlik met dié van haar matriek-nemesis kruis.



Grootwordjare

Soos in die 1980's-TV-reeks Die jare daarna en Charlize Theron se rolprent Young Adult (2011) ontgin Klopper hier die tema van die ysere greep wat 'n mens se grootwordjare tot baie lank daarna op jou het. Hoe die klein molshope van toe berge word en blý. En so neem 'n storie wat – ja! – wil vermaak jou op sleeptou. Maar die tou is ongelukkig nie van die sterkste nie.

Klopper se woordvaardigheid en skryf­vernuf en Pamina Vermaak se babydoll-verpakking ten spyt styg dit nooit uit bo 'n bra oppervlakkige liefdesverhaal wat, met grepe uitgesensureer, dalk in aflewerings in Eva sou kon verskyn het nie. Dit blyk dat Klopper dit self stilletjies erken. Sy verwys immers na Pamina se kindertydse dagboek met die einste titel in ­dieselfde asem as “lame ­romantic comedies” (bl. 153). Sulke ­flitsies ten spyt is daar tog geen durende ironiese metastem om vir die leser salwing te bied nie.

Dit was vir hierdie leser des te meer teleurstellend omdat die swanger openingstoneel soveel vet belofte inhou – met sy satire, treffende stilering en volkome oortuigende byderwetsheid. Maar pleks van iets werklik interessants probeer maak uit die naderknars van twee komete verlaat die skrywer haar op sterretjieshemel-clichés.

Waar Pamina wel as karakter 'n mate van rondheid verkry, is die res van die rolverdeling, Wolf inkluis, so dun soos blink sellofaan. Die verhaal berus boonop op soveel ­toevallighede en onwaarskynlikhede dat enige poging tot suspension of disbelief byna onmoontlik is – so afwesig soos Pamina se panty ná haar nag op 'n dubbelbed ter see. Ook die clichés is volop: Etlike kere word Pamina se gedagtes na die hede toe “teruggeruk”. En al wat brander is “klots” aanhoudend.

Klopper is ook geneig om vir haar lesers te vertel eerder as om vir hulle te wys wat gebeur sodat hulle hul eie afleidings kan maak. So byvoorbeeld raas Leentjie “deernisvol” met die hond (bl. 53) en sê Pamina iets “met 'n ironiese stemtoon” (bl. 124).

As Randall Wicomb se stem oor 'n transistorradio die fladdering van 'n rooi rok besing, lees 'n mens: “Om hier in te stap, in hierdie plek wat soos 'n gekrapte langspeelplaat vashaak tussen die verlede en hede, maak haar pynlik bewus van die verbygang van tyd; van haar eie verganklikheid en die onstuitbare bliksemse noodlot” (bl. 82).

Wat dié resensent egter veral die bliksem in maak is dat die boek met 'n paar klappe van die uitgewersweep soveel beter kón gewees het.

Klopper kán skryf. Daar is talle baie mooi passasies.

Sy vertel: “Haar ma sit 'n rukkie en vryf-vryf plooitjies uit die deken, asof sy duine van stiltes tussen hulle probeer uitstryk” (bl. 136). En daar is heelwat humor. Die ­meereisende delicious monster, alewig op die passasiersitplek ingegespe, is 'n lieflik absurde motief. En, as dinge tussen die minnaars vlot, sê die verteller, sonder om hierdie slag die ironie aan te kondig: “Sy voel veilig by Wolf. . .” (bl. 181).

Pamina Vermaak is in ambisie ontvang en gebore. Die uitgewer se bemarkingspan het as vroedvrou ingestaan.

Met 'n buiging na die musiekwêreld ­waarteen die verhaal ontplooi, is daar 'n onderteks van liedjies en lirieke én 'n playlist. Op laasgenoemde word die leser vertel: “Wolf de Jager se liedjie, 'Tyd om eerlik te wees', is beskikbaar op alle digitale platforms.”

Hierdie resensent se playlist? Om eerlik te wees: Fimflamfilosophy se “Marshmallow Explosion”, wat hy lukraak op die internet raakgehoor het.

*Jean Meiring is 'n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent. - Netwerk24