05 September 2018 | Energie

Brandstofprys: Regering gee N$59 miljoen

Brandstof vandag 40c duurder

Elvira Hattingh



Die regering sal in September alleen N$59 miljoen namens brandstofverbruikers opdok om die skok van stygende brandstofpryse te versag.

Dít volg nadat die Nasionale Energiefonds (NEF) tussen April en Julie vanjaar reeds N$320 miljoen bestee het aan die subsidiëring van die koste van olie.

Die adjunkminister van myne en energie, me. Kornelia Shilunga, het gister tydens 'n nuuskonferensie gesê die prysverhoging van slegs 40c per liter vir verbruikers beteken die NEF het die impak op die verbruiker versag deur vir meer as die helfte van die onderverhaling te betaal.

Dít het gevolg op 'n aankondiging Maandagaand dat die prys van alle brandstof 'n minuut ná middernag Woensdagoggend met 40c per liter styg.

Motoriste op Walvisbaai betaal dus van vandag af N$ N$12,95 per liter vir 95-oktaan petrol, terwyl diesel teen onderskeidelik N$13,28 per liter (500 ppm) en N$13,33 per liter (50 ppm) verkoop sal word.

“In September alleen was daar 'n verskil van sowat 80c per liter op invoerkoste teenoor die heersende prys wat die verbruiker betaal,” het Shilunga gesê.

“Die gelykmaking van die prys verseker dat 'n skerp toename in brandstofpryse nie 'n beduidende uitwerking op die Namibiese verbruiker het nie,” het sy verduidelik.

Sy het gesê die fonds word tans aangewend om meer as die helfte van die koste oor 'n spesifieke tydperk te absorbeer. D

it beteken die volle koste van brandstofpryse word nie deur die verbruiker betaal nie.

Onderverhalings op 25 Augustus het sowat 95c per liter vir petrol beloop, en sowat 86c per liter gemiddeld op beide grade diesel.



REDES VIR VERHOGING

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het Maandagaand in 'n nuusverklaring gesê die hoofrede vir hierdie verhoging is die verswakking van die Namibiese dollar teenoor die Amerikaanse dollar.

Daarbenewens het die krisis in Libië, wat 'n groot olievervaardiger is, ook tot die prysstyging bygedra.

Shilunga het verduidelik brandstofpryse word aangepas wanneer die invoerkoste vir grootmaatinvoerders per liter byvoorbeeld hoër is as wat daarvoor by brandstofpompe betaal word.

“In dié geval word die prys verhoog. Dienooreenkomstig word die prys verlaag as daar meer by brandstofpompe betaal word as wat dit grootmaatinvoerders kos om dit op internasionale markte te koop.”

Sy het verduidelik voor prysaanpassings word die NEF se balansstaat in ag geneem.

Sy het verder verduidelik die brandstofprys bestaan uit doeanekoste, die NEF-brandstofheffing, 'n padgebruiker-heffing, belasting, asook 'n MVA-heffing.

ANGOLESE PRODUK VERSKIL

“Namibië voer 100% van sy petro­leumprodukte van Suid-Afrika af in en sommige van internasionale markte. Ons kan nie olie van Angola af invoer nie weens 'n verskil in brandstofspesifikasies en –standaarde.

“Angola verkoop byvoorbeeld 2 000 ppm diesel, terwyl ons slegs van die 50 ppm- en 500 ppm-graderings gebruik maak, het sy verduidelik.

Laasgenoemde sal teen einde Desember vanjaar uitgefaseer word.

Sy het gesê Namibië is steeds besig om na plaaslike bronne van onverwerkte olie te soek en Tullow Oil en sy vennote het gisteroggend met boorwerk in die see naby die Namibiese kus begin.