04 September 2018 | Internasionaal

Brand vernietig 200 jaar oue museum

’n Massiewe brand het Sondag die 200 jaar oue Nasionale Museum in Rio de Janeiro in puin gelê en in alle waarskynlikheid meer as 20 miljoen voorwerpe, insluitend argeologiese ontdekkings en geskiedkundige voorwerpe, vernietig.

Pres. Michel Temer het dit in ’n verklaring as ’n “onberekenbare verlies vir Brasilië” beskryf. “Twee honderd jaar se werk, navorsing en kennis is verlore.”

Teen Sondag laat was die oorsaak van die brand nog nie bekend nie. Geen beserings of sterftes is aangemeld nie. Die museum, wat verbind word met die universiteit in Rio de Janeiro en die onderwysdepartement, is in 1818 gestig.

Dit huisves verskeie versamelings insluitend Egiptiese artefakte en die oudste menslike fossiel wat tot nog toe in Brasilië gevind is. Foto Netwerk24/Reuters