05 December 2018 | Mense

Boer Jörn verloof

Tanja Bause - Boer Jörn (38) van Namibië, wat vanjaar aan die gewilde Duitse TV-reeks Bauer sucht Frau (Boer soek 'n vrou) en Oliwia (28) is verloof! Oliwia het twee maande lank op Jörn se plaas in die Grootfontein-­omgewing gekuier.

Hy het haar ook Namibië gewys en sy was só beïndruk met die land dat sy bereid is om hierheen te immigreer.

Aan die begin van Oktober het Jörn na Pole, Oliwia se geboorteland, gereis om haar ouers en land te leer ken. Jörn het sy kans gewaag en die groot vraag by die Morskie Oko-meer gevra.

“Ek het die ring die hele tyd in my broeksak saamgedra. Toe ons by die meer kom, het ons 'n stil plek gaan soek. Oliwia het selfies geneem, en ek het die ring op haar skouer gesit. Sy het hom vir die eerste keer op die skerm van haar selfoon gesien en gelukkig het sy ja gesê,” het Jörn gesê.

“Ek het die liefde van my lewe gevind,” het hy gesê.

Jörn is die tweede deelnemer uit Namibië aan die gewilde TV-reeks.

Boer Gerald, wat die eerste deelnemer was, het getrou sowat 'n jaar ná hy vir Anna ontmoet het.