08 March 2018 | Sakenuus

BlackBerry dagvaar Facebook oor WhatsApp

BlackBerry het Dinsdag 'n eis teen Facebook ingestel waarin hy aanvoer die maatskappy het sy patentregte geskend.

Hy sê WhatsApp en Instagram, wat albei aan Facebook behoort, het ­tegnologie en funksies van ­BlackBerry Messenger nageboots en dat hy daarvoor vergoed moet word.

Litigasie oor skending van ­patentregte is deel van BlackBerry se uitvoerende hoof, John Chen, se strategie om meer geld vir die maatskappy in te win nadat dit oor die afgelope paar jaar heelwat markaandeel verloor het.

“Die verweerders het mobiele boodskap-apps geskep wat baie van BlackBerry se innovasies gebruik, insluitend veiligheid, ­gebruikerskoppelvlak, en verbeterde funksionaliteit,” voer die ­Kanadese maatskappy in sy ­hofaansoek in Los Angeles aan.

“Om aandeelhouers se bates en intellektuele eiendom te beskerm, is die werk van elke ­uitvoerende hoof,” sê Sarah McKinney, 'n woordvoerder van BlackBerry.

Sy ontken dat litigasie Black­Berry se strategie is en sê die hofsaak volg op jare van onderhandelinge.

BlackBerry het 'n verpligting teenoor sy aandeelhouers om ­toepaslike regsmiddele na te streef, voeg sy by.

Paul Grewal, een van Facebook se regsadviseurs, sê die maatskappy sal die eis teenstaan.

“Nadat hy sy pogings om te ­innoveer laat vaar het, wil BlackBerry nou die vrugte van ander se innovasie pluk.”

BlackBerry probeer om maat­skappye te oortuig om hom ­tantieme te betaal vir die gebruik van sy sowat 40 000 wêreldwye patente op ­tegnologie, insluitend bedryfstelsels, netwerkinfrastruktuur,­­ ­akoestiek, boodskapdienste, ­kuberveiligheid en koordlose kommunikasie. BlackBerry verkoop ook kuberveiligheidsprogrammatuur vir motors wat self bestuur.



Nokia gedagvaar

Die maatskappy het Nokia in 2017 gedagvaar weens die skending van sy patentregte op 3G- en 4G-kommunikasietegnologie. Die saak is nog hangende.

Qualcomm het verlede jaar ­ingestem om BlackBerry meer as R11 miljard te betaal om 'n dispuut oor tantieme te skik.

BlackBerry het ook in Oktober 2017 aangekondig dat hy 'n vertroulike skikking bereik het met Blu ­Products, 'n Amerikaanse maatskappy wat laekosteselfone vervaardig.

Dié maatskappy het glo ook ­BlackBerry se patentreg geskend. – Netwerk24/Reuters