04 September 2018 | Ministeries

Bipa-drempel deurgetrap

Streke 'relatief stil'

Catherine Sasman - Die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa), die regering se agentskap vir die registrasie van maatskappye, is verlede week deur Namibiërs oorval wat betyds wou registreer voor aansoeke vir visvangregte Vrydag amptelik gesluit het.

Volgens Bipa se woordvoerder, mnr. Ockert Jansen, was daar verlede week lang rye by Bipa se kantoor soos mense probeer het om hul maat­skappye betyds te registreer.

Namibia Media Holdings (NMH) het verskeie klagtes van gefrustreerde lede van die publiek oor trae vordering hiermee ontvang.

Volgens Jansen het die “­ongekende invloei” van aansoeke vir registrasies die rye in 'n stadium tot stilstand gebring.

“Die publiek moet asseblief geduldig wees.

“Ons het veral dié week meer aansoeke ontvang as wat Bipa kan hanteer. Ons kon nie al die maat­skappye registreer nie, maar het die ministerie van visserye en mariene hulpbronne oor die huidige agterstand ingelig,” het Jansen gesê.

Volgens hom sal dié wat maatskappye voor die sluitingsdatum (Vrydag 31 Aug) geregistreer het, briewe van Bipa ontvang wat by hul aansoeke om visvangregte aangeheg kan word.

Dié briewe sal die aansoek vir ­registrasie bevestig en ook stel dat op finalisering daarvan gewag word.

“Om 'n maatskappy te laat registreer, is 'n proses. Dit duur gewoonlik sowat drie tot vyf dae om 'n beslote korporasie te registreer. Weens die toename in aansoeke neem die verwerking daarvan egter langer,” het hy gesê.

VISVANGREGTE

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het in Mei aangekondig alle Namibiërs kan vir die beskikbare 96 visvangregte in nege vismaatskappye aansoek doen.

Die aanvanklike sluitingsdatum vir aansoeke was toe die einde van Julie.

Alle aansoekers moet 'n geregistreerde maatskappy of trust hê om in aanmerking vir visvangregte te kom.

Dit het tot 'n vlaag van ­aansoeke gelei om maatskappye betyds te ­registreer, wat die ministerie genoodsaak het om die sluitingsdatum met 'n maand, tot 31 Augustus, uit te stel.

Enkele dae voor die sluitings­datum het die Namibiese Organisasie vir die Informele Sektor (Niso) gesê hoewel hulle die ministerie se uitnodiging aan die Namibiese bevolking verwelkom om vir die regte aansoek te doen, baie voornemende ­regtehouers reusekoste in die gesig staar om die maatskappye te laat registreer.

Volgens Niso moet die ministerie in die lig hiervan die praktiese uitvoerbaarheid van groter deelname van gewone Namibiërs aan die bedryf ondersoek.

“Ons dink hier aan verteenwoordigende liggame soos burgerlike en ­sakeorganisasies, maatskappye, asook werkgewersorganisasies,” het Niso se sekretaris-generaal, mnr. Veripi Kandenge, gesê.

Kandenge het verwys na “werkers­trusts” wat deur bydraes van alle regte­houers gefinansier word.

Niso het voorts gevra dat die aansoekproses verder uitgestel word.

Die ministerie se woordvoerder, mnr. De Wet Siluka, het egter by navraag gesê hy is nie bewus van enige versoeke dat die sluitings­datum weer geskuif word nie.

Volgens hom is die meeste ­aansoeke in Windhoek ingedien, terwyl dit “­relatief stil” in ander streke was. Hy kon egter nie 'n aanduiding gee van die aantal aansoeke wat die ­ministerie ontvang het nie.