11 July 2019 | Howe

‘Bewyse gemanipuleer’

Verwarring oor risikobestuurverslag

Erwin Leuschner – “Ek was sprakeloos en weet nie wie my toneel gemanipuleer het nie,” het die senior ondersoekbeampte me. Paula Havenga gister in die streekhof op Swakopmund gesê.

Havenga het die gruongeluk ondersoek wat op 29 Desember 2014 tussen Swakopmund en Hentiesbaai plaasgevind het, waarin ses mense dood is.

Sy is die afgelope 30 jaar ’n ondersoekbeampte by die Namibiese polisie en sedert 2004 op Hentiesbaai gestasioneer.

Mnr. Jandré Dippenaar is daarvan aangekla dat hy die ongeluk veroorsaak het deur verskeie voertuie by ’n heuwel teen ’n hoë spoed verby te steek.

Havenga het getuig sy was die middag van 29 Desember van Walvisbaai af na Hentiesbaai op pad.

“Ons was by Wlotzkasbaken toe ons die dik swart rook op die horison gesien het,” het sy gesê.

In die omgewing van die hengelplek Die Walle het sy ná ‘n bult op die ongelukstoneel afgekom.

Die FJ Cruiser, waarvan Dippenaar die bestuurder was, was aan die brand, het sy gesê.

Havenga sê sy het Dippenaar op die toneel sien lê en hom gevra of daar nog mense in die voertuig is.

“Hy het ‘nee’ geantwoord,” het sy gesê, en bygevoeg: “Ek was bekommerd omdat die voertuig nog sterk gebrand het.”

Ná die vuur geblus is, het Havenga die verkoolde liggame van mnr. JC Horn (27), mee. Dinah Pretorius (30) en Charlene Schoonbee (24) in die voertuig opgemerk.

Sy het al die lyke, insluitende dié van die drie Duitse toeriste, me. Alexandra Joschko (19), mnr. Markus Joschko (48) en me. Stephanie Joschko (49) in twee verskillende lykswaens vervoer en die wrakke is deur insleepdienste verwyder.

“Ek het belangrike bewyse op die pad met ysterstokke gemerk en die toneel met ’n lint afgebaken. Ons het die toneel toe eers verlaat om die lyke na Walvisbaai te vervoer,” het sy gesê.

Havenga sê sy het net ná middernag teruggery en met afgryse ontdek haar lint is verwyder en die pad is met ’n padskraper gelykgemaak.

“Iemand het die bewyse gemanipuleer,” het sy getuig.

Alle spore en ander merke op die pad wat vir die ongeluksherkonstruksie nodig was, is vernietig.

Volghens Havenga het sy Hentiesbaai se uitvoerende beampte de volgende dag geskakel en gevra waarom die pad die vorige aand gelykgemaak is.

“Hy het gesê hy het nie die opdrag gegee nie,” het sy gesê.

Mnr. Daniel Lange, hoof van Nampol se verkeersafdeling in die Erongostreek, was ook gister in die getuiebank en het gesê die pad is gelykgemaak, maar hy het nie opdrag daarvoor gegee nie en weet nie wie vir dié opdrag verantwoordelik was nie.

Die ongeluk het op ’n “misleidende plek” plaasgevind het mnr. Brian Low, bestuurder van die private ambulansdiens LifeLink op Hentiesbaai, gister getuig.

Low maak gereeld van die stuk pad tussen die twee dorpe gebruik en is vas oortuig daarvan dat die ongeluk by ’n heuwel plaasgevind het.

In teenstelling hiermee voer Dippenaar se regsverteenwoordiger, adv. Louis Botes, sedert die begin van die saak aan daar was geen heuwel by die ongeluktoneel nie en die ongeluk is deur die Duitse toeriste veroorsaak.

Low het getuig hy het om 17:11 op die betrokke dag ’n oproep oor die ongeluk ontvang. Hy was ses minute later op die toneel, het hy gesê.

Hy sê hy het ’n polsslag by me. Alexandra Joschko (19) in die Ford Ranger gevoel.

“Ons kon haar nie uit die wrak bevry nie,” het hy gesê.

Toe die brandweer by die toneel opdaag, het Low probeer om die beseerde Joschko met meganiese toerusting uit die wrak te bevry.

“Die baie omstanders het dit moeilik gemaak en ons pogings het misluk,” het hy gesê.

Oor die ongelukstoneel het Low geen besonderhede verskaf nie. Hy het wel getuig van Hentiesbaai af kom ’n mens nie onmiddellik agter die pad “val skielik weg” en dat “sig geblokkeer” is nie.

Van Swakopmund af is die heuwel duidelik herkenbaar, het hy gesê.

Tydens Maandag se hofverrigtinge het die Ford Ranger se spoed ook ter sprake gekom.

Die Duitse toeriste was ten tyde van die ongeluk in dié voertuig.

Dippenaar se spoed is met ’n vorige hofverskyning as 147,6 km/h tydens die botsing aangegee.

Die Ford Ranger se spoed is met die hulp van ’n ingeboude GPS op 85 km/h vasgestel.

Me. Berniese Olivier, ’n staatsgetuie en bestuurder van Europe Car in Namibië, het gesê die Ford Ranger behoort aan Europe Car en is met ’n GPS van Car Track Namibia toegerus.

Olivier het dié besonderhede die dag ná die ongeluk by Car Track Namibia aangevra.

“Hulle het vir my ’n foto gestuur waarvolgens die spoed van die voertuig tussen 80 en 85 km/h gewissel het,” het sy gesê.

Deur middel van dié inligting op die GPS is ’n risikobestuurverslag van die betrokke dag opgestel.

Die bestuurder van die voertuig het hiervolgens die 80 km/h-perk 126 oorskry en die 100 km/h-perk 87 keer.

Staatsaanklaer Ethel Ndlovu het ’n verslag van Car Track in Suid-Afrika voorgelê wat verwarring veroorsaak het.

Volgens dié verslag was die spoed van die voertuig tydens die botsing 105 km/h.

Dit is hoër as volgens die foto en vyf kilometer vinniger as die toegelate spoed op die pad.

“Dit kan ek nie verduidelik nie,” het Olivier gesê.

Die saak word deur regter Gaynor Poulton aangehoor en word vandag voortgesit.