03 August 2016 | Wetenskap

Belangrike fossiele in Namibië ontdek

Francoise Steynberg - Navorsers het nuwe fossiele in Namibië ontdek wat die teorie ondersteun dat die eerste massa-uitwissing in die wêreld veroorsaak is deur vroeë diere of “ekostelsel-ingenieurs” - nuutontwikkelde biologiese organismes wat die omgewing só drasties verander het dat ouer spesies uitgewis is.
Dit word die eind-Ediacaran-uitwissing genoem en het 540 miljoen jare gelede plaasgevind toe enkelselorganismes, die suksesvolste wat die Ediacarans was, deur nuwer spesies uitgewis is wat op die toneel gekom en ontwikkel het.
Hierdie nuwer spesies is metasoön genoem, die eerste diere. Hulle kon onafhanklik en ten minste op ’n sekere punt van hul lewens spontaan beweeg en kon hulself volhou deur ander organismes te vreet, asook ander organismes wat hulle geproduseer het.
Die oomblik toe hulle op die toneel verskyn het, is bekend as die Kambriese ontploffing, ’n tydperk van 25 miljoen jaar toe die meeste van die moderne diere vandag bekend op die planeet begin leef het.
Volgens Simon Darroch van Vanderbilt Universiteit in Nashville, Amerika, en sy kollegas is die fossiele wat hulle ontdek het sommige van die besbewaarde voorbeelde van ’n gemeenskap wat beide Ediacarans en vroeë diere huisves. Dit voorsien bewyse van nabye ekologiese interaksie tussen die twee. Vóór dit het beperkte bewyse bestaan wat op die oorgang tussen Ediacarans en metasoöns dui.
In ’n vroeëre studie het navorsers berig oor ’n fossielrekord wat stresvolle gemeenskappe van Edicaran toon wat geassosieer word met tonnels. Die nuutontdektes kom ná dit, wat ’n ongewone oorgangsekostelsel wys wat bestaan het vóór die Kambriese ontploffing. Dit beklemtoon die Ediacarans se laaste pogings om aan die lewe te klou.
Volgens Darroch het hul ontdekking ’n relevante boodskap. Met mense as die sterkste ekostelselingenieurs van vandag, hou die evolusie van hul nuwe gedrag gevolge vir die hele planeet in.
Dit is in die wetenskaplike tydskrifPalaeogeography, Palaeoclimatology, Palaeoecology gepubliseer en hul studie het steun van die Nasionale Wetenskapstigting, die NASA Astrobiologie Instituut en die National Geographic Society ontvang. Thomas Boag, Rachel Racicot, Douglas Erwin, Sarah Tweedt, Marc Laflamme en Sara Mason het ook tot die navorsing bygedra.
Nóg ’n teorie plaas die skuld vir die massa-uitwissing van 2,59 miljoen jare gelede op ’n supernova ontploffing wat honderde ligjare weg van die aarde plaasgevind het.