14 August 2019 | Landbou

Bek-en-klouseer tref Zambezi

Tweede uitbreking in vier jaar

Elvira Hattingh - Bek-en-klouseer het opnuut by die Sigwe-nedersetting in die Zambezistreek uitgebreek en sowat 40 000 beeste loop tans die gevaar om ook met die siekte besmet te word.

Ondersoeke deur amptenare van die veeartsenydienste-direktoraat (DVS) dui aan sowat 50 uit 106 beeste by Sigwe toon reeds tekens van bek-en-klouseer.

In ‘n kennisgewing wat deur me. Albertina Musilika-Shilongo, waarnemende hoof van veeartsenydienste by die direktoraat uitgereik is, is bevestig twee krale by Sigwe is geraak.

Musilika-Shilongo sê staatsamptenare is Donderdag verlede week deur boere in die omgewing in kennis gestel dat hul beeste kreupel loop, kwyl en nie wei nie.

Ná veeartse die krale besoek het en monsters geneem het, het die sentrale veterinêre laboratorium in Windhoek die afgelope Sondag bevestig dit is wel bek-en-klouseer.

Musilika-Shilongo meen die siekte kom van die buffels wat van nature in dié gebied voorkom en as draers van die virus bekend is.

Sigwe lê in die oostelike vloedvlaktes van die Zambezi-gebied, sowat 90 km oos van Katima Mulilo en binne Namibië se sone wat met bek-en-klouseer besmet is, het Musilika-Shilongo gesê.

Verskeie beheermaatreëls is intussen afgekondig, wat insluit geen diere met gesplete hoewe mag in of uit die Zambezistreek beweeg nie en alle vervoerpermitte moet onmiddellik opgeskort word.

Dit geld beeste, skape, bokke en varke. Die verbod is ook van toepassing op die vervoer van velle, trofeë, gras en ander plantmateriaal wat die virus kan versprei.

Verder sal padblokkades op strategiese plekke opgerig word en spanne is uitgestuur om vas te stel hoe ver die uitbreking strek.

Boere word dus versoek om hul vee vir inspeksie beskikbaar te stel.

Musilika-Shilongo het gesê intussen sal vee wat ‘n risiko vir besmetting loop weer ingeënt word en boere word versoek om hul vee te bring.

Volgens veeartsenydienste sluit tekens van bek-en-klouseer in dat vee kwyl, nie wei nie, kreupel loop, nie werklik wil beweeg nie, koors en blase op hul tong, tandvleis en hoewe het.

Dit is ook ‘n aanmeldbare veesiekte.

Bek-en-klouseer het in Mei 2015 vir die eerste keer in dekades in die sentraal-noordelike streke van Namibië uitgebreek.

Dit net nadat Namibië die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) genader het om die gebied noord van die veterinêre kordonheining vry van bek-en-klouseer te verklaar.

Namibië kan glo heelwat meer beesvleis vir internasionale markte produseer, sou produsente noord van die Rooilyn by uitvoermarkte ingesluit word.

Die bedreiging van bek-en-klouseer in die noordelike kommunale gebiede het dít tot dusver verhinder.

[email protected]