12 July 2018 | Sport

Baarsvangers toer na Zim, Mosambiek

Tanja Bause - Die Namibiese Baarshengelver­eniging (NBAA) stuur dié week vir die eerste keer 'n presidentspan na Zimbabwe om aan die driehoekige toets­reeks teen dié land en Suid-Afrika deel te neem.

Die toernooi sal op die Mteri-dam naby Chiredzi by die Hippo Valley Estates aangebied word. In 2007 is 'n rekordbaars van 7,9 kilogram uit die dam getrek. Die dam is tans 100% vol en visvangtoestande lyk belowend.

Ses hengelaars en drie bote sal vandag die 1 900 kilometer reis begin om vanaf 16 Julie tot 20 Julie aan die toernooi deel te neem.

James van Rooyen is die kaptein van die vaardige en diverse span. Hy het tevore met 'n agtste plek in die gesogte BASS Nation toernooi in die Verenigde State van Amerika groot indruk gemaak. Van Rooyen het ook 'n uitgebreide ervaring van visvang op die Mteri-dam.

Die presidentspan bestaan uit die bestuurder Neels van Tonder, Jacques Marais, Jason Koudelka, Gregg Howard en Andrew Hall.



NASIONALE SPAN

Namibië se nasionale baarshengelspan sal volgende week Donderdag padlangs na Mosambiek vertrek om in die Afrika-unie Streek 5-kompetisie teen Zimbabwe, Suid-Afrika, Zambië en Mosambiek mee te ding.

Die kompetisie begin op 23 Julie en strek oor vyf dae. Twee oefendae word deur drie kompetisiedae gevolg.

Die Chicamba-meer word tans as die beste plek vir baarshengel in Suidelike Afrika aangeskryf en mense van dwarsoor die wêreld stroom vir dié doel na die dam.

Max Pieper van Namibië het die Streek 5 rekord in 2013 met 'n baars van 6.43 kilogram by dié dam opgestel. Die rekord staan vandag nog.

Die nasionale span van 12 hengelaars en ses bote sal die reis van 4 800 kilometer heen en terug aanpak.

Alec Williams is die kaptein van die span wat uit Richard Grant, Niel Engelbrecht, Anton de Wit, Nic Kruger, Duan Kotze, Max Pieper, Thinus Williams, Jandre Engelbrecht, Anton Smith, Johan Coetzee en Stephan de Wet bestaan.