18 April 2019 | Afrika

ANC se top-6 dalk nog byeen oor kandidatelyste

Philda Essop

Pres. Cyril Ramaphosa en die vyf ander lede van die ANC se topses sal straks aanstaande Dinsdag die verslag van die ANC se integriteitskommissie oor die party se kandidatelyste bespreek.

Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) het dié komitee vroeër opdrag gegee om die lys te bestudeer en terugvoering te gee.

Luidens berigte word 22 name op die party se kandidatelys deur die integriteitskommissie as “problematiese” parlementêre kandidate beskryf.

City Press het berig dat adj.pres. David Mabuza en Gwede Mantashe, ANC-voorsitter en minister van minerale bronne, se name glo op dié lys is.

George Mashamba, voorsitter van die integriteitskommissie, het Dinsdag bevestig dat die NUK ’n lys aan die kommissie oorhandig het vir hersiening en dat die kommissie sy werk in dié verband afgehandel het. Die kommissie kan egter nie die besonderhede van sy aanbevelings bekend maak nie. Die NUK sal hom daaroor uitspreek, sê Mashamba.

Reëlings word tans getref vir die kommissie om met die NUK oor die kwessie te vergader.

Dakota Legoete, waarnemende nasionale ANC-woordvoerder, het Dinsdag by navraag oor die pad vorentoe gesê die verslag van die integriteitskommissie is nog nie deur die ANC se topses-leiers bespreek nie.

Hulle vergader gewoonlik elke Maandag, maar dié vergadering het nie die afgelope Maandag plaasgevind nie omdat hulle Joe Nkadimeng (92), ’n ANC-struggleleier, aan huis besoek het waar hulle die Isithwalandwe/Seaparankoe-medalje – die hoogste eerbewys van die ANC – aan hom oorhandig het.

Legoete sê die groep sal waarskynlik volgende Dinsdag vergader omdat Maandag ’n vakansiedag is. In dié stadium is dit egter net ’n bespiegeling, want hy het nog geen opdrag daaroor gekry nie.

Nóg die party se nasionale werkkomitee (NWK), nóg die NUK sal weer voor die verkiesing vergader.

KWESSIE IS UITERS BELANGRIK

“Die ANC beskou die kwessie as uiters belangrik. Al die kandidate het die toets geslaag ingevolge die Kieswet. Die Kieswet dek egter nie kwessies van moraliteit nie daarom is dit ’n interne kwessie vir die ANC. Dit kan voor of ná die verkiesing afgehandel word,” sê Legoete.

Intussen beplan verskeie DA-leiers in Gauteng om Woensdag besware wat hulle van die publiek oor die ANC se kandidatelys ontvang het, by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, te oorhandig.

Die DA sê verskeie ANC-kandidate word by misdade geïmpliseer, wat van “korrupsie en wanadministrasie tot seksuele aanranding” wissel. Duisende Suid-Afrikaners het volgens die party in reaksie hierop op ’n spesiale DA-webwerf, getiteld Prison Not Parliament, beswaar aangeteken. – Netwerk24