08 November 2018 | Internasionaal

Al 78 kinders uit Kameroen vrygelaat

Geweld neem in 2018 toe

Al 78 kinders en ’n drywer wat Maandag in die suidweste van Kameroen ontvoer is, is Woensdag vrygelaat. Die skoolhoof en ’n onderwyser word egter steeds deur gewapende mans aangehou.

So sê Hoogeerwaarde Fonki Samuel Forba van die Presbiteriaanse kerk in Kameroen, waarmee die skool geaffilieer is en wat met die ontvoerders onderhandel.

“Prys God dat 78 kinders en die bestuurder vrygelaat is. Die skoolhoof en ’n onderwyser is steeds by die ontvoerders. Kom ons hou aan bid,” het Forba gesê.

Hy het vroeër gesê 79 kinders is ontvoer, maar een was eintlik die onderwyser wat steeds by die ontvoerders is.

Dit kom nadat gewapende aanvallers Maandag toegeslaan het op ’n skool in die stad Bamenda, geleë in ’n Engelssprekende streek waar separatiste vir ’n onafhanklike staat veg.

Een van die aanvanklike griewe was dat Franssprekende onderwysers aangewys is vir Engelse skole in die noordweste en suidweste.

Geweld het in 2018 toegeneem, insluitend waar die weermag ingegryp het en burgerlikes doodgemaak is. Talle mense het uit Bamenda en ander dele gevlug na vreedsamer Franssprekende streke.

AMBAZONIA

’n Video waarin sommige van die ontvoerde seuns verskyn, het Dinsdag op sosiale media versprei. Netwerk24 het vroeër berig die seuns sê in die video hulle is deur die Amba Boys ontvoer.

Die BBC berig Amba is kort vir Ambazonia, die naam van die nuwe land waarvoor die separatiste veg.

Die skool waar die kinders ontvoer is, is ’n Presbiteriaanse skool met leerlinge van tussen tien en 14 jaar oud. Die New York Times berig ’n werknemer by die skool het vermoedelik met die ontvoering gehelp.

Die separatistiese beweging het in 2017 stoom opgetel nadat die regering op vreedsame betogings toegeslaan het, aldus Reuters.

Separatiste in die land, wat veg vir ’n onafhanklike staat, Ambazonia, het nie ’n losprys vir die kinders geëis nie, maar geëis dat dié skole gesluit word.

Dit is glo omdat Franssprekende onderwysers aangewys is vir Engelse skole in die noordweste en suidweste. – Netwerk24/Reuters