29 August 2018 | Gesondheid

Afrika - beperkte toegang tot gesondheidsdienste

Bejaardes, tieners meeste geraak

Henriette Lamprecht



Inwoners van Afrikalande het baie beperkte toegang tot 'n reeks gesondheidsdienste wat in teenstelling is met die verwagtinge van universele gesondheidsdekking. In dié verband is dit veral tieners en bejaardes op die vasteland wat aan die agterspeen suig.

Die vasteland spook nou ook met 'n toename in nie-oordraagbare siektes en 'n gesondheidstelsel wat steier onder 'n gebrek aan menslike hulpbronne wat goeie gehalte diens kortwiek.

Ministers van gesondheid en senior beamptes van 47 Afrikalande vergader reeds van Maandag af in Dakar, Senegal, vir die 68ste sitting van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se streekskomitee vir Afrika waar dié kwessies hoog op die agenda is.

Die vergadering duur tot Vrydag en word deur meer as 400 afgevaardigdes bygewoon wat die WHO se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Gebreyesus, dr. Matshidiso Moeti, die WHO se streeksdirekteur vir Afrika, sowel as ontwikkelings­vennote insluit.

Op die agenda is die amptelike bekendstelling van 'n nuwe verslag oor die stand van gesondheid in Afrika. Die verslag bied 'n omvattende oorsig van onder meer die toestand van gesondheids- en verwante dienste en hoe dit die agenda en ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 raak.

Volgens 'n verklaring wat deur die WHO uitgereik is, het inwoners van Afrika baie beperkte toegang tot 'n reeks gesondheidsdienste wat in teenstelling met die verwagtinge van universele gesondheidsdekking is.

Tieners en bejaardes op die vasteland suig veral aan die agterspeen. Daarmee saam maak Afrikalande grootliks ook nie daarvoor voorsiening dat dienste juis op mense moet fokus nie.

Die verklaring sê voorts 'n ontleding van die werksaamhede van die gesondheidstelsel oraloor die streek wys dienste word teen 49% gelewer – bykans die helfte van hul volle vermoëns.

Toegang tot noodsaaklike dienste en 'n veerkragtige stelsel is die mees kritieke veranderlikes wat gesondheid in die streek kniehalter.

Met meer as 150 000 cholera-gevalle, wat 3 000 sterftes insluit wat in 2017 in 17 lande in die Afrikastreek alleen aangeteken is, sal afgevaardigdes onder meer oplossings probeer beding om die epidemie teen 2030 uit te wis.

Dié voorstelle sluit in die versterking van epidemiologiese en laboratoriumwaarnemings, die kartering van sleutelgebiede waar die siekte die meeste voorkom, toenemende beleggings in skoon water en sanitasie vir die kwesbaarste gemeenskappe, asook tydige behandeling.

Afgevaardigdes sal voorts die uitdagings en voorgestelde optrede vir lidlande en vennote bespreek om die stadige vooruitgang in die hantering van die stygende voorkoms van nie-oordraagbare siektes (NCD's) in die streek te takel.

Die behoefte om te verseker mense het toegang tot medisyne is voorts hoog op die agenda.

Ten spyte van onlangse vooruitgang in die toegang tot medisyne en die voorkoming van sommige siektes, sukkel baie Afrikalande steeds om volle toegang tot gesondheidsprodukte aan hul onderskeie bevolkings te verskaf.

Daarmee saam ondermyn die styging in nie-oordraagbare siektes soos kanker en diabetes, gesondheidstelsels wat steier onder 'n gebrek aan menslike hulpbronne en die hoë koste van nuwe mediese produkte regerings se toegewydheid daaraan om mediese uitgawes, wat uit inwoners se eie sak betaal word, af te bring.

Van die voorstelle wat tydens die vergadering oorweeg moet word, is die behoefte aan strenger farmaseutiese beleidsrigtings, beter gehalte toesig van mediese produkte, sowel as samewerking wat betref die aankope van gesondheidsprodukte.

Die streekskomitee, die WHO se beheerliggaam in die Afrikastreek, evalueer die organisasie se werk in die streek en verskaf leiding aan lidlande om die gesondheidsituasie in hul onderskeie lande te verbeter.