11 September 2018 | Omgewing

AfriCat doen navorsing op bruin hiëna

Dikwels misverstaan

Francoise Steynberg



Dr. Sarah Edwards doen tans navor­sing op bruin hiënas op AfriCat se Okonjima-natuurreser­vaat buite Otjiwarongo.

Bruin hiënas (Hyaena brunnea) is skaam, ontwykend, word min gesien en dikwels misverstaan.

Tog word dié dier, ofte wel die strandjut of strandwolf, deur boere ­afgemaai weens die ­opvatting dat hulle by mens-dier-konflik betrokke is.

Daar is tussen 566 en 2 440 volwasse bruin hiënas in Namibië oor, en die spesie word as byna bedreig gelys.

Vir sy voortbestaan is die bruin hiëna van beskermde gebiede afhanklik.

“Ons het gekies om wildbevolkings teen bedreigings soos mens-dier-konflik en stropery te beskerm. Okonjima is met 'n elektriese heining omhein,” lui 'n nuusbrief van AfriCat.

AfriCat meen 'n geslote reservaat bied die voordeel van 'n veilige lewe vir wild, maar terselfdertyd hou dit 'n bedreiging vir 'n vorm van inteling in.

Dít weens die normale prosesse van immigrasie en emigrasie wat gestop word, bevolkingsgroottes wat die natuurlike ­kapasiteit oorskry en mededinging met ander spesies om beperkte hulpbronne in die gebied.

“Dus moet die wildlewe binne Okonjima se grense bestuur word om hul oorlewing en volhoubaarheid te verseker.”

Die bruin hiëna-bevolking kom natuurlik in Okonjima voor, en sedert die elektriese heining in 2010 opgerig is, word dit nie bestuur nie.

“Tans is min bekend oor die bevolking, en in ­Januarie is 'n grootskaalse navorsingsprojek op die bruin hiëna van stapel gestuur.”



GPS-NEKBANDE

GPS-nekbande en versteekte kameras word oor die hele Okonjima gebruik om data in te samel.

Die projek se doel is om die bevolkingsgrootte, sosiale struktuur, habitatgrootte en aktiwiteitspatrone op Okonjima vas te stel.

“Gegewe die beperkings wat deur die heining opgelê word, kan daar verwag word dat bruin hiëna-gedrag van vrylopende individue verskil en daarom moet hierdie gespesialiseerde gedrags­ekologie verstaan word om doeltreffende bestuursbesluite te neem,” sê AfriCat.

Tydens die eerste ses maande van die projek is agt volwasse bruin hiënas verdoof en met GPS-nekbande toegerus. Nóg twee sal binne die komende weke nekbande kry.

Die agt bruin hiënas bestaan uit vier mannetjies en vier wyfies. Daar is min verskille tussen hulle en hul gewig wissel tussen 42,65 kg en 46,3 kg.

Volgens AfriCat het twee van die wyfies vars bytwonde aan die gesig en nek, en ou letsels aan die nek.

Die 40 versteekte infrarooi kameras, beskermingsbokse, batterye en SD-kaarte is deur die Namibiese Wildbewarings­trust geskenk en Varta Consumer Batteries Namibia het die koste van die batterye gedek.

Volgens AfriCat is 4 037 foto's van bruin hiënas tot dusver deur die versteekte kameras vasgevang. Ander wildspesies is ook deur die versteekte kameras afgeneem, van springhase tot kameelperde, wat baie waardevol is.



INTELING

“Inteling van die bruin hiëna-bevolking is 'n kwessie, daarom sal die navorsing ook die genetiese diversiteit bepaal. Siektes is ook 'n kwessie, want enige siekte kan vinnig onder 'n bevolking versprei,” sê AfriCat.

Bloedmonsters om vir verskillende siektes te toets is tydens die verdowing om die nekbande toe te rus, geneem en sal deur veeartse getoets word.

Alle ­navorsingsresultate sal in 'n wetenskaplike joernaal gepubliseer word sodat die data wyd gedeel en deur bewaringskundiges geïmplementeer kan word.



NAVORSER

Dr. Sarah Edwards is die projek se navorser. Sy is van Cheshire in die Verenigde Koninkryk (VK). Edwards het in 2007 na Namibië gekom en op die land, sy mense en wild­lewe verlief geraak.

Edwards het haar B.Sc. in dieregedrag en -welsyn verwerf, waarná sy vir 'n jaar grond-eekhorings by die NamibRand-natuurreservaat bestudeer het. Daarna het sy haar meestersgraad in dieregedrag by die Manchester Metropolitan Universiteit in die VK voltooi.

Sy het na Namibië teruggekeer en 'n omgewingstudie op die ­potensiële impak van mynbou op bruin hiënas in die Sperr­gebiet Nasionale Park saam met die Bruin Hiëna-­navorsingsprojek by Lüderitz gedoen. Daarna het sy 'n jaar lank navorsing op woud-­­ekolo­gie in Kambodja gedoen.

Edwards het weer na Namibië teruggekeer om haar PhD-graad in mens-dier-konflik op kommersiële plase wat aan die Namib-Naukluft en Sperr­gebiet Nasionale Parke grens saam met die Bruin Hiëna-navorsingsprojek te voltooi.

Ná die voltooiing van Edwards se doktorsgraad het sy 'n postdoktorale beurs van die Sentrum vir Wildbestuur by die ­Universiteit van ­Pretoria in Suid-Afrika gekry, wat sy in samewerking met die Jagluiperd-navorsingsprojek van die Leibniz-instituut in die oostelike sentrale Namibië aangepak het.

In dié twee jaar het sy aan gevorderde navorsingsmetodes op die ­jagluiperd, luiperd en tierboskat in die Khaudum Nasionale Park gewerk, asook in die Gondwana Canyon Park om die luiperdbevolking daar te ontleed.