10 September 2018 | Howe

Aanklaer slaan slag met appèl

Hoërhof stel besluit ter syde

Denver Kisting - Maande ná 'n bekgeveg in 'n Windhoekse hof het 'n aanklaer 'n oorwinning in die hoërhof behaal.

Die hoërhof in Windhoek het Vrydag 'n bevel van landdros Gerrit van Pletzen ter syde gestel.

Dít kom nadat Van Pletzen vroeër vanjaar vir mnr. Rowan van Wyk, 'n aanklaer, vir 30 dae tronk toe gestuur het.

Van Wyk het teen sy skuldigbevinding van minagting van die hof en vonnis geappelleer.

Van Pletzen het in April vanjaar vir Van Wyk op 'n waarskuwing vrygelaat, hangende die appèl.

Van Wyk het gister gesê hy is baie verlig oor die jongste wending. “Nou is dit agter die rug.”

Mnr. Hans Thourob, die beheeraanklaer by die Windhoek-landdroshof, waaraan Van Pletzen en Van Wyk steeds verbonde is, het vroeër beweer Van Pletzen boelie aanklaers.

Hiernaas stel Van Pletzen glo ook die aanklaers in die verleentheid. “Hy verneder hulle,” het Thourob aangevoer.



Gewraakte voorval

Luidens die hofrekords van die verrigtinge op Vrydag 13 April het 'n woordewisseling tussen die twee mans ontstaan oor presies waar 'n bedrogdossier was.

Van Wyk het glo gesê die aanklaer-generaal (AG) se beslissing in die bedrogsaak is steeds nie beskikbaar nie nadat die saak reeds vantevore om daardie rede uitgestel is.

Van Pletzen het glo toe gesê Van Wyk sinspeel daarop dat die dossier nog by die AG se kantoor lê.

Van Wyk het dit ontken waarna Van Pletzen volgens die hofrekords gesê het: “Meneer, deur te sê die beslissing is nie beskikbaar nie, impliseer direk die dossier ís by die aanklaer-generaal se kantoor en dat die vertraging daar lê. Ek wil niks verder hoor nie.”

Tóé bars die bom met Van Wyk wat gesê het Van Pletzen beledig hom.

Die landdros het Van Wyk beveel om niks verder te sê nie.

“Ek sal nie stilbly nie,” het Van Wyk glo gereageer.

Hy voer aan Van Pletzen het vir hom gesê om sy mond te hou (“shut up”) en dít het hom sodanig gegrief dat hy die landdros glo ingelig het sy gedrag is disrespekvol en onprofessioneel.

Van Pletzen sê Van Wyk lieg dat hy beveel is om sy mond te hou. “Ek het nooit vir hom gesê 'shut up' nie. Hy is 'n leuenaar.”

Dié landdros het gister by navraag aan Republikein gesê: “Hulle (die aanklaers) gaan steeds aan met hulle leuens.”