14 August 2019 | Misdaad

19 vas oor wildmisdaad

Twee glo met ietermagô gevang

Francoise Steynberg - Altesaam 19 mense is tot dusver in Augustus in verband met ses wildmisdaadsake in hegtenis geneem.

Volgens statistieke wat deur die polisie-eenheid vir beskermde hulpbronne en die ministerie van die omgewing en toerisme se eenheid vir intelligensie en ondersoeke vir wildmisdaad in Augustus saamgestel is, is twee verdagtes in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary of pogings daartoe in hegtenis geneem.

Beslag is ook op vier gemsbokke, twee lewende ietermagôs, een ietermagôvel en een duiker gelê, maar geen vuurwapens, ammunisie of voertuie is gekonfiskeer nie.

Tien vermeende wildstropers het Maandag in die landdroshof op Otjiwarongo verskyn ná hulle Vrydag op Kalkfeld in hegtenis geneem is.

Mnre. Benny Tsaeb (32), Dolph Mutirakuti (20), Rivaldo Kamuhake (20), Michael Ameb (20), Bentley Poppas (26), Alex Kangombe (18), Ewald Kamaturiri (32) en ’n 16-jarige het op klagte van onwettige jag verskyn.

Me. Katrina Amadhila (31) en mnr. Petrus Nangolo (33) het in ’n ander hof op klagte van die onwettige besit van vier gemsbokkarkasse ter waarde van N$10 800 verskyn.

Volgens Nampa het landdros Ivette Fredericks borgtog van N$3 000 elk aan Tsaeb, Mutirakuti, Kamuhake, Ameb, Poppas, Kangombe en Kamaturiri toegestaan, terwyl die minderjarige op ’n waarskuwing vrygelaat is.

Hulle sou gister weer vir pleitdoeleindes in die hof verskyn.

Amadhila en Nangolo bly in aanhouding en landdros Eduard Kesslau het hul saak tot 3 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.

Me. Anna Amukugo en mnr. Joas Neemwatya het vir die staat verskyn.

Twee mans (60 en 48) is Vrydag om 15:00 glo by die Mbambi-nedersetting op die hoofpad tussen Nkurenkuru en Mpungu in die Kavango-Wesstreek tydens ’n polisiesoektog met ’n ietermagô in hul besit gevind.

Hulle sou ook gister in die hof verskyn.

[email protected]