Werklose gesondheidswerkers van USAID en Pepfar het met die eerste minister vergader. Foto Kantoor van die eerste minister
Werklose gesondheidswerkers van USAID en Pepfar het met die eerste minister vergader. Foto Kantoor van die eerste minister

N$200 se taxigeld vir werkloses van USAID, Pepfar

Nuusredaksie

Die eerste minister, Elijah Ngurare, het Saterdag met tien verteenwoordigers van gesondheidsassistente vergader wat afgedank is ná die onttrekking van befondsing deur die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) en die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting (Pepfar). 

Hy het hulle verseker dat die regering kennis geneem het van hul kommer en moontlike oplossings sal ondersoek.

Die groep – wat gesamentlik oor 22 jaar ondervinding beskik nadat hulle in Developing Aid from People to People (DAPP) se program vir die totale beheer van die die epidemie (TCE) en by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedien het – het ’n beroep gedoen op hul heraanstelling in die gesondheidsektor of oorweging vir alternatiewe gesondheidsverwante geleenthede.

“Ons is versorgers, ouers en broodwinners en ons lewens het al hoe moeiliker geword,” het die groep gesê en gevra vir ’n geleentheid om die mense van Namibië te dien en hoop vir hul gesinne te herstel.

In reaksie op hul versoek het Ngurare begrip vir hul haglike omstandighede getoon en gesê dat die vergadering hom ’n duideliker beeld gegee het van die uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Hy het om verskoning gevra vir die vertraging in die hantering van die saak en hulle verseker dat die regering die verskillende opsies wat hulle voorgestel het, sal oorweeg.

“Wat ek vir julle kan sê, is dat jul minister vir julle veg," het die eerste minister gesê en die groep aangemoedig om voort te gaan om met die regering te skakel indien hulle voel dat die vordering te lank neem.

“Ek is nou baie beter ingelig. As ons nie vinnig genoeg optree nie, praat met ons. Daar is geen probleme sonder oplossings nie,” het hy bygevoeg.

As ’n gebaar van ondersteuning het Ngurare aan elk van die tien verteenwoordigers N$200 gegee om hulle met vervoerkoste huis toe te help.

“Die vergadering het die regering se bereidwilligheid bevestig om direk na geraakte burgers te luister en hul bekommernisse te oorweeg terwyl moontlike, aanvaarbare oplossings vir die toekoms ondersoek word,” sê die kantoor van die eerste minister.

Amerika het in September in ’n gesamentlike mediaverklaring aangekondig dat Namibië vir die 2027-boekjaar na verwagting sowat US$45 miljoen (ongeveer N$730 miljoen tot N$750 miljoen) in finansiële ondersteuning sal ontvang, voordat direkte befondsing grootliks uitgefaseer word ten gunste van tegniese samewerking.

Byna alle Namibiese personeel in diens van USAID, insluitend plaaslike verpleegkundiges wat in agentskap-befondsde programme werk, het verlede jaar hul werk verloor.

Dit volg ná die Trump-administrasie toe opdrag gegee het dat USAID en Pepfar al sy bedrywighede in Namibië moet staak.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer