
’n Internasionale finansiële ontleder en gekwalifiseerde geoloog, mnr. Mark Heyhoe van Westhouse Securities in Londen, bestudeer ’n mineraalmonster van Extract Resources.
MET 15 swaardiens eksplorasiebore wat dag in, dag uit deur die die rotse van die Namib se bodem dring om een van die grootste uraanertsbronne in die land te bevestig, blyk die daarstelling van die tweede grootste uraanmyn ter wêreld bloot ’n formaliteit te wees.
Extract Recources het tydens verlede jaar se internasionale myn-indaba in Kaapstad aangekondig dat hy die reuse uraanertsliggaam ’n skamele ses kilometer suid van Namibië se oudste en grootste uraanmyn ontdek het. Die aankondiging het die aandag van beleggers regoor die wêreld getrek en sedertdien word alles in die stryd gewerp om die nuwe bron se omvang en ontginbaarheid te bevestig. Die proses staan as die Usab-projek bekend.
Extract het op die vooraand van vanjaar se myn-indaba in Kaapstad verskeie finansiële ontleders na Namibië genooi om ter plaatse te sien hoe die bevestiging van die uraanbron naby die Husabberge plaasvind en om nuwe syfers bekend te maak.
Dit is die eerste keer ter wêreld dat soveel eksplorasiebore gebruik word om een mineraalbron te bevestig en die moontlikheid bestaan dat nog ses bore by die proses betrek gaan word.
Tydens die besoek het die voorsitter van die Extract-direksie, mnr. Stephen Galloway, die ontleders ingelig oor die vordering wat met die bevestiging van die bron gemaak is. Volgens mnr. Galloway is die bron met die hulp van die mees moderne magnetiese en radio-opname tegnologie vanuit die lug gemaak en twee gebiede wat wel ontgin kan word, is reeds bevestig met ander belowende gebiede wat steeds die mineraalbron van Extract uitbrei.
“Die magnetiese en radiotoerusting wat in die verlede gebruik is, kon nie werklik dieper as tien meter onder die aarde se oppervlak penetreer nie. Met die nuwe tegnologie is die nuwe bron op meer as 70 meter onder die oppervlakte raakgesien. Boorwerk wat op die lugopnames gevolg het, het die bron bevestig. Nou moet die ontginbaarheid nog net bevestig word voor ’n definitiewe uitvoerbaarheidstudie sal bepaal of die myn wel tot stand sal kom.”
Volgens mnr. Galloway is Extract Resources se doel om ’n wêreldklas uraanmyn naby Husab te ontwikkel, wat uiteindelik as die Rössing-Suidmyn bekend sal staan.
“Extract gaan dié doelwit behaal met deurlopende aggressiewe eksplorasie om die bestaande bron te vergroot, deur so vinnig moontlik myn- en ontginningslisensies en die goedkeuring van die gemeenskap vir die projek te verkry, deur te sorg dat die projek uitvoerbaar is en te verseker dat genoeg geld vir die ontwikkeling daarvan bestaan. Die maatskappy sal in die eerste kwartaal van die jaar ’n uitvoerende direksie en ’n bestuurspan aanstel, sorg dat sleutelverhoudinge met die nywerheid en Regering in plek gestel is en dat ’n proaktiewe bemarking- en kommunikasiestrategie bestaan.”
Aan die ontleders het hy genoem dat die Husab-projek moontlik die grootste skoon neerslag van die uraan in die wêreld kan wees en dat die graad van die mineraal baie hoog is. Die herwinning van die metaal uit die erts is meer as 90 persent sonder dat te fyn gemaal hoef te word.
Die grootste bron is maklik bereikbaar deur die vestiging van twee relatief lae risiko oopgroefmyne. Hy het ook genoem dat infrastruktuur soos elektrisiteit, water en die nabyheid van ’n uitvoerhawe baie voordelig is. Voorts het hy aangevoer dat Namibië reeds oor ’n vaardige mynwerkersmag beskik en dat die land polities en finansieel baie stabiel is.
Intussen het Extract Resources sy filiaal in Namibië, Swakop Uranium, gestig en ’n plaaslike hoof uitvoerende beampte aangestel. Mnr. Norman Green sal uiteindelik verantwoordelik wees vir die mynprojek ontwikkeling. Mnr. Green was voorheen betrokke by die ontwikkeling en vestiging van die Skorpion sinkprojek.
Volgens mnr. Green is dit net formaliteite wat afgehandel moet word voor die mynontwikkelingsprojek kan begin, maar hy voorsien dat die nuwe Rössing-Suidmyn teen die einde van 2013 in die produksiestadium kan inbeweeg