Mnr. Quinton Mentor, die Republikein-leser wat in die eerste week van die Omeya-kompetisie as finalis aangewys is, het Saterdag die wenner geword van erf 180 in die Omeya-ontwikkeling. Die erf se waarde is N$305 000.
NÁ Saterdag se Omeya-erweveiling loop die Gholflandgoed- en Behuisingsontwikkeling 30 km suid van die stad op al sy silinders.
Net minder as N$1,5 miljoen is tydens die veiling vir die duurste erf aangebied en die goedkoopste erf in die leefstyl-ervaring van Omeya het vir N$5 gegaan.
Dit was die erf wat deur die SMSkompetisiewenner, mnr. Quinton Mentor van Windhoek, losgeslaan is.
Volgens mnr. André van der Walt, een van die vier direkteure van Omeya, is 130 erwe tydens die veiling verkoop en het nog ’n klompie Saterdagaand om die braaivleisvuur reeds eienaars gekry. Gister het mense by die terrein van die ontwikkeling ook gaan koop.
“Die feit is dat die ontwikkeling aan die gang is; dat ons genoeg erwe vir die afskop van die hand gesit het en dat mense steeds by onsself of by die eiendomsagente kan gaan aanklop om hul erwe in die opwindende ontwikkeling te koop. Ons belofte bly steeds ’n leefstylervaring sonder gelyke.”
Mnr. Mentor se erf, erf 180 ter waarde van N$305 000, het Saterdagoggend eerste ’n baas gekry toe die veiling voorafgegaan is deur ’n gelukstrekking in die vorm van tien sleutels waarvan net een in die deur op die veilingsverhoog sou pas.
Agt sleutels het in die slot vasgesteek, voor die Mentor-sleutel die deur na die erf kon oopsluit.
Mnr. Mentor was oorstelp van vreugde en dit was te verstane. Daarna het die veiling in alle erns begin en dit was vroeg duidelik dat Windhoekers nog grond soek om hul droomhuise op te gaan bou.
Die voorwaardes vir die stad se mense is algemeen: veiligheid, die buitelug en iets meer as ’n gewone straatadres tussen duisende ander.
Om ’n erf op Omeya te bekom, kan inligting van die Omeyakantoor verkry word. Die telefoonnommer is +264 61 400 484.
Kyk hieronder hoe mnr. Mentor die sleutel gekies het om die regte deur oop te sluit.