15.11.2011 Wimpy trek nuwe baadjie aan
 Die Mariental Brandstofsentrum is een van die gewildste aandoenplekke op die Suideroete en kan met sy rustige atmosfeer en goeie geriewe, met reg as ’n oase in die gebied beskryf word.
MARIENTAL Brandstofsentrum is een van die gewildste aandoenpunte deur besoekers aan die Suidedorp. Die sentrum bied ’n 24-uur geriefswinkel, Wimpy-restaurant, gemaklike kleedkamers en brandstof aan diegene wat deur dié deel van die land reis.
Grootskaalse uitbreidings en opgraderings aan sy bestaande winkel, parkeerplek en die oprigting van ’n nuwe bakkery op die perseel is op die oomblik aan die gang. Die totale koste vir die nuwe ontwikkeling en opgraderings gaan volgens die eienaar, mnr. Chris Nel, meer as N$10 miljoen beloop.
Die projek behoort teen einde Maart volgende jaar afgehandel te wees.
“Ons hoop egter om vroeg in Desember wanneer die bouersvakansie begin, genoeg parkeerplek te kan voorsien om besoekers gemaklik te kan ontvang. Dit behels onder meer ook dat die nuwe beplanning voorsiening gaan maak vir diegene wat met sleepwaens en woonwaens hier aankom, dat hulle ’n draaisirkel gaan hê om dit vir hulle makliker te maak om hier te parkeer,” het Nel gesê.
Hy het bevestig dat die bestaande Wimpy van ’n 40-sitplek na ’n 100-sitplek gaan vergroot. Op die oomblik is dit reeds een van die Wimpy-restaurante met die hoogste omset per stoel van al 500 takke oor die hele Suidelike Afrika.
“Indien ons in die verlede meer sitplekke gehad het, sou ons omset noodwendig ook heelwat beter gewees het,” het hy bygevoeg.
|