
Die Maltahöhe-gemeenskap sê baie dankie. Tuberkulose-pasiënte, bejaardes en kinders is eerste gehelp. Dié begunstigdes is in groepies verdeel. Hier is een van die groepies.
DIE ergste winterkoue is vir eers op Maltahöhe verdryf ná die eerste begunstigdes hul komberse, warm klere, mussies en kos uit ’n liefdadigheidsprojek ontvang het. In Februarie het me. Marlene Byleveldt by die kantore van Suiderland aangeklop om deur middel van die streekkoerant te vra dat mense die projek moet ondersteun.
Sy het veral gevra dat mense wol vir die kinders op Maltahöhe moet gee om tolletjie te brei. Dié “tolletjie” is van ’n piksteel gemaak waarin vier spykers gekap is en die breinaald is ’n eenvoudige tandestokkie. Een van die ander pleidooie was dat mense N$5 aan die Pappot-winkel op die dorp moet gee om klere vir die kinders te koop.

Me. Babs van Tonder (heel regs) het haar vriendinne (wie nie hul name genoem wil hê nie) gevra om te help truie, serpe, musse en komberse vir die oumas van Maltahöhe brei. Hulle is van die Oude Rust-oord in Windhoek.
Hulle het aangebied om ’n kledingstuk teen net N$5 van die hand te sit. ’n Bankrekening is ook vir die projek geopen. Die besonderhede daarvan is: Standard Bank Ausspannplatz, Maltahöhe Community Project, takkode: 082 672 en rekeningnommer: 14 288 9105.
Me. Byleveldt het gesê belangstellendes kan haar skakel indien hulle op ander wyses tot die projek wil bydra. Hulle benodig nog N$5-muntstukke vir die klere, vetkryte (selfs halwes of gebreektes), speelgoed, duvetoortreksels, handdoeke en klere. Haar telefoonnommers is 061 243 874 of 081 375 6996.