
Bouwerk aan die slagplaas het reeds in Oktober verlede jaar begin en as alles volgens plan verloop, kan dit in Februarie aanstaande jaar amptelik in gebruik gestel word.
MARIENTAL se munisipaliteit is besig om sy bestaande slagpale teen ’n koste van meer as N$4 miljoen op te gradeer ten einde voorsiening te maak om sowat 500 varke wat op die oomblik hoofsaaklik in Windhoek en op Walvisbaai geslag word, plaaslik te slag.
Duisende dollar word maandeliks aan vervoerkoste bestee om die verslagtings elders te laat doen. Nie net is die opgradering van die slagpale ’n positiewe ontwikkeling op die dorp nie, maar dit dien terselfdertyd as ’n positiewe wyse om werkgeleenthede aan plaaslike inwoners te verskaf en om waarde tot die bedryf toe te voeg.
Die stadsklerk van die dorp, mnr. Paul Nghiwilepo, het tydens ’n besoek aan Suiderland gesê kundigheid is nodig om ’n doelgerigte slagpale in te rig en ’n Suid-Afrikaanse kontrakteur is volstoom besig daarmee. NDC Structural Engineering Consultants is spesialiste met baie jare se ervaring in onder meer slagplase en vleisverwerkingsaanlegte en hulle het reeds internasionale aansien daarmee verwerf.

Wanneer die nuwe drielyn slagpale van die Marientalse munisipaliteit op die dorp teen volgende jaar Februarie voltooi is, gaan sowat 500 varke per dag daar geslag word.
Volgens hom gaan die slagplaas aan die Mariental Varkplaas verhuur word.
“As alles volgens plan verloop, behoort ons die amptelike ingebruikneming en opening volgende jaar in Februarie te kan doen,” het hy gesê.
Volgens mnr. Gideon Goosen van Mariental Piggery behoort die onderneming aan ’n Suid-Afrikaanse maatskappy genaamd No 2 Piggeries. “Ons produseer op Mariental in die omgewing van 24 000 varke per jaar wat alles binnelands bemark word.
“Ons verskaf werk aan 35 permanente werkers en gebruik ook nog stukwerkers wanneer nodig,” het hy gesê.
Die varkplaas is ’n 1 200-sogeenheid waar op ’n daaglikse grondslag tussen 12 500 en 13 000 varke is.
Goosen sê voer vir die diere word hoofsaaklik uit Suid-Afrika ingevoer as roumateriaal en dan word dit op die plaas gemeng met vismeel en semels wat plaaslik gekoop word.
Volgens Goosen produseer hulle maar net 20 persent van die Namibiese gebruik van varkvleis. Die res word uit Suid-Afrika en Europa ingevoer.
“Ons aanvanklike plan is om by die nuwe aanleg met verslagting van 500 per dag te begin. Ons langtermyn doelwit is egter om produksie te verdubbel sodat Namibië meer selfvoorsienend kan raak met betrekking tot varkproduksie,” het hy gesê.